Jesaja 27 - Bybel vir almal

1Daardie dag sal die Here

die vinnige slang doodmaak.

Hy sal die Leviatan doodmaak,

die slang wat rondswem,

die monster in die see.

Die Here sal sy skerp, groot,

sterk swaard vat

en Hy sal die slang doodkap.

My volk moet vrede maak met My

2Daardie dag moet julle sing

oor die mooi wingerd

van die Here,

julle moet sing oor sy volk.

3Ek, die Here, pas my wingerd op,

Ek gee die wingerd altyd water.

Ek pas die wingerd elke dag en nag op,

sodat niemand dit kan verwoes nie.

4Ek is nie meer kwaad nie,

maar wanneer Ek dorings en bossies

in my wingerd kry,

dan trap Ek self die wingerd plat

en Ek steek dit aan die brand,

en ook die dorings en bossies.

5As my volk nie wil hê

Ek moet dit doen nie,

dan moet hulle vrede maak met My.

Hulle moet vrede maak met My

en hulle moet in my tempel kom vra

dat Ek hulle moet beskerm.

6Die tyd sal later kom

wanneer die mense van Israel

soos bome sal wees

wat wortels het en wat

blomme en vrugte dra.

Die vrugte sal baie wees,

die aarde sal vol vrugte wees.

7Die Here het die mense

van Israel gestraf,

maar Hy het hulle vyande

nog meer gestraf.

Hy het party van die mense

van Israel doodgemaak,

maar Hy het nog meer van hulle

moordenaars doodgemaak.

8Die Here straf die mense

van Israel op 'n ander manier,

Hy het hulle weggestuur

uit hulle land.

Toe die warm oostewind waai,

het die Here hulle weggewaai

met 'n sterk wind.

9Daarom, as die mense

van Israel nou wil hê

dat die Here hulle sonde

moet vergewe,

dan moet hulle al die altare stukkend slaan.

Hulle moet dit fynslaan

soos wanneer 'n mens

kalk-klip fynstamp.

Daar moenie meer gewyde pale

en wierook-altare wees nie.

Eendag sal die Here julle bymekaarmaak

10Die mense van Israel moet

die altare stukkend slaan,

want die stad is nou alleen,

die stad wat die sterk mure het.

Daar woon nie meer mense nie,

dit is so leeg soos die woestyn.

Daar wei beeste

wat die bossies vreet.

11Die bome se takke is droog,

vroue breek dit af en hulle maak vuur.

Dit het gebeur met die mense

van Israel.

Hulle wou nie lewe soos

die Here wou hê nie,

daarom was hulle Maker

nie jammer vir hulle nie.

Hy is nie meer goed vir hulle nie.

12Maar, mense van Israel,

eendag sal die Here julle bymekaarmaak

van die Eufraat-rivier

tot by Egipte-spruit.

Hy sal julle optel soos 'n mens

koring-are optel,

Hy sal een na die ander optel,

nie almal saam nie.

13Daardie dag sal iemand

die groot ramshoring blaas.

Al die mense van Israel

wat oral in Assirië en Egipte is,

sal kom en hulle sal

voor die Here buig

op die gewyde berg

in Jerusalem.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help