Hebreërs 8 - Bybel vir almal

Jesus is ons Hoëpriester

1Wat ek gesê het, beteken dit: Ons het 'n Hoëpriester, Hy het gaan sit op die belangrikste plek langs die troon van die Groot Koning in die hemel.

2Hy doen 'n priester se werk in die tempel, dit is die ware tempel-tent. Die Here het die tempel gebou, 'n mens het dit nie gedoen nie.

3Want God kies elke hoëpriester om presente en offers te bring. Daarom moes ook hierdie Hoëpriester, Jesus, iets hê om te offer.

4Hierdie Hoëpriester in die hemel sou nie 'n priester kon wees as Hy op die aarde was nie, want hier op die aarde is daar priesters wat die presente offer soos die Wette van Moses sê.

5Hulle doen die werk van priesters by 'n tempel, en die tempel lyk soos die tempel in die hemel. Toe Moses gereed was om die tempel-tent te bou, het God vir hom gesê wat hy moet doen. God het gesê: “ Kyk goed, jy moet alles maak presies soos Ek vir jou op die berg gewys het.”

6Maar nou het God hierdie Hoëpriester, Jesus, gekies en aangestel om die werk van 'n priester te doen, en sy werk is baie belangriker as die werk van die priesters op die aarde. Dit is so omdat Jesus ook die Middelaar van 'n beter verbond is. God het die nuwe verbond vir sy volk gegee toe Hy beter dinge vir hulle belowe het.

7Daar moes 'n tweede verbond kom, want die eerste verbond het nie alles gedoen wat dit moes doen nie.

8Want God was ontevrede met sy volk, Hy het gesê:

Daar sal 'n tyd kom, sê die Here,

wanneer Ek 'n nuwe verbond

sal maak

met die mense van Israel

en die mense van Juda.

9Hierdie verbond sal nie wees

soos die verbond

wat Ek gemaak het

met hulle voorvaders nie.

Ek het daardie verbond gemaak

op die dag toe Ek hulle

hand geneem het om hulle

uit die land Egipte te bring.

Maar hulle het my

verbond gebreek,

daarom het Ek hulle

weggegooi, sê die Here.

10Want die verbond wat Ek later

met die Israeliete sal maak,

sal só wees, sê die Here:

Ek sal my wette

op hulle harte skryf

en dit sal binne-in hulle wees.

Ek sal hulle God wees

en hulle sal my volk wees.

11Hulle sal nie meer vir mekaar

leer of sê:

“Jy moet die Here ken” nie.

Hulle almal sal My ken,

onbelangrike en

belangrike mense,

12want Ek sal die dinge vergewe

wat hulle verkeerd gedoen het,

Ek sal nie meer dink

aan hulle sondes nie.

13God het gepraat van 'n “nuwe” verbond, en so het Hy gesê dat die eerste verbond nou die “ou verbond” is. Wanneer iets oud word en oud is, dan sal dit gou verdwyn.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help