Jeremia 46 - Bybel vir almal

Die Here praat oor Egipte

1Jeremia het gehoor die Here praat met hom oor die volke.

2Die Here het gepraat oor Egipte, oor die soldate van die farao Neko, koning van Egipte. Die soldate was in Karkemis by die Eufraat-rivier. Koning Nebukadnesar van Babel het die soldate van die farao oorwin in die vierde jaar nadat Jojakim, seun van Josia, koning van Juda geword het.

3Die farao het gesê:

“Julle moet die skilde neem

en kom oorlog maak,

4julle moet die perde inspan

en op die ryperde klim,

julle moet gereedstaan

met helms op julle koppe,

julle moet die spiese skerpmaak

en harnasse aantrek.”

5Die Here sê:

“Ek sien soldate wat skrik en vlug.

Party soldate sterf, ander soldate vlug,

hulle staan nie stil nie,

hulle draai nie om nie,

die vyande is rondom hulle.

6Die vinnige manne

kan nie weghardloop nie,

die soldate kan nie vry wegkom nie,

hulle struikel en val by die Eufraat-rivier

in die noorde.”

7Wie is dit wat oor sy walle stroom

soos die Nyl-rivier,

soos 'n groot rivier met water wat raas?

8Dit is Egipte wat oor sy walle stroom

soos 'n groot rivier met water wat raas.

Egipte sê: “Ek wil oor my walle stroom,

ek wil die aarde toemaak.

Ek wil al die stede verwoes

en die mense doodmaak wat daar woon.

9Perde, julle moet storm,

oorlogkarre, julle moet wild jaag,

die soldate moet uitgaan,

die soldate uit die lande Kus en Put,

die soldate wat elkeen 'n skild vashou,

die soldate uit die land Lud,

die soldate wat elkeen 'n boog

vashou en styftrek.”

10Maar daardie dag behoort

aan die Here,

die Here wat oor alles regeer,

dit is die dag wanneer Hy

sy vyande wil straf.

Die vyande sal baie soldate

doodmaak,

die bloed sal vloei,

want dit sal 'n offer wees

in die land in die noorde,

by die Eufraat-rivier,

'n offer vir die Here,

die Here wat oor alles regeer.

11Egipte, jy moet na Gilead gaan

en jy moet balsem gaan haal,

al jou eie medisyne het nie

gehelp nie,

jy het nie gesond geword nie.

12Die volke op die hele aarde

het gehoor

toe jy die oorlog verloor

en toe jy skree van die pyn,

want jou soldate het oor mekaar geval

en hulle het saam bly lê.

13Die profeet Jeremia het gehoor die Here praat met hom. Dit was in die tyd toe koning Nebukadnesar van Babel gekom het om oorlog te maak teen Egipte.

14Die Here het gesê:

“Julle moet dit gaan vertel in Egipte,

julle moet dit sê vir die mense

in die stad Migdol,

julle moet dit sê vir die mense

in die stede Nof en Tagpanges,

julle moet sê: ‘Julle soldate moet regstaan

en gereed wees,

want die vyande maak die mense oral dood.’

15En hoekom vlug julle soldate?

Hulle het nie aangehou veg nie,

want die Here het hulle omgestoot.

16Hulle val oor mekaar en hulle sê:

‘Jy moet opstaan, ons moet teruggaan

na ons mense toe,

na die plekke waar ons gebore is,

weg van die swaarde van die vyande

wat so baie van ons doodmaak.’

17“Hulle het vir die farao, die koning van Egipte, 'n nuwe naam gegee. Die nuwe naam was: Die man wat gespog het, maar wat nie daar was toe hy oorlog moes maak nie.”

18Die Koning praat.

Sy Naam is die Here wat oor alles regeer.

Hy sê: “So seker soos Ek lewe,

die vyande wat kom, is sterk,

so sterk soos Tabor-berg wat tussen die berge is,

soos Karmel-berg by die see.

19Mense van Egipte, julle moet

al julle goed vasbind,

die vyande sal julle vang en wegvat.

Hulle sal die stad Nof verwoes,

daar sal nie meer mense woon nie.

20Egipte is soos 'n mooi jong vers-kalf,

maar daar kom 'n blindevlieg uit die noorde.

21Egipte het soldate gehuur,

en hulle was soos vet kalwers,

maar hulle het ook omgedraai en gevlug,

nie een soldaat het bly staan nie.

Die dag het gekom, en hulle het bang geword,

die tyd het gekom, die Here het hulle gestraf.

22Egipte sal vlug, soos 'n slang

wat blaas en wegseil

wanneer die houtkappers in die bos kom.

Die soldate van Babel kom om oorlog te maak,

hulle kom soos houtkappers

23wat die bome in die groot bos van Egipte

met hulle byle afkap.

Want daar is meer soldate as sprinkane,

niemand kan hulle tel nie.

24Egipte sal die oorlog ver verloor,

die volk uit die noorde sal hulle oorwin.”

25Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê:

“Ek sal nou vir Amon, die god van No, straf. Ek sal ook die farao straf, en sy gode en sy konings, die farao en almal wat dink hy kan hulle help.

26Ek gee hulle vir die vyande wat hulle wil doodmaak, vir koning Nebukadnesar van Babel en vir sy soldate. Maar daarna sal die mense van Egipte weer in hulle land woon, soos lank gelede.”

Dit het die Here gesê.

Die nageslag van Jakob sal terugkom(Ook Jer 30:11-12)

27“ En julle, my dienaars, nageslag van Jakob,

julle moenie bang wees nie.

Mense van Israel, julle moenie skrik nie,

want Ek sal julle red daar ver waar julle is.

Ek sal julle nageslag red uit die land

waar hulle gevangenes is.

Die nageslag van Jakob sal terugkom

en hulle sal veilig wees,

en daar sal niks wees wat hulle pla nie,

hulle sal vir niemand bang wees nie.

28“Die Here sê:

“Julle, my dienaars, nageslag van Jakob,

julle moenie bang wees nie, want Ek is by julle.

Ek het julle weggejaag na ander volke toe.

Ek sal daardie volke laat verdwyn,

maar Ek sal júlle nie laat verdwyn nie.

Maar Ek sal julle straf, Ek moet dit doen,

Ek kan nie sê julle is onskuldige nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help