Hosea 4 - Bybel vir almal

My volk sterf omdat hulle nie naby My wil wees nie

1Israeliete, julle moet luister

na wat die Here sê.

Die Here sê die mense

wat in die land woon,

doen verkeerd.

Hulle doen nie

wat hulle belowe het nie.

Hulle is nie lief vir die Here nie,

hulle wil nie

naby Hom wees nie.

2Hulle vervloek mekaar,

hulle lieg,

hulle maak ander mense dood,

hulle steel,

hulle slaap

by ander mans se vroue,

hulle hou aan

om mense te vermoor.

3Daarom is dit

so droog in die land.

Almal wat in die land woon,

kry swaar.

Die diere en die voëls vrek,

ook die visse in die see.

4Die Here sê:

“ Priester, Ek praat met jou.

Jou mense sê dit is jy

wat verkeerd doen,

nie iemand anders nie.

5Jy sal vandag sterf,

en die profeet

sal saam met jou sterf.

Ek sal jou ma ook doodmaak.

6“My volk sterf

omdat hulle nie naby My

wil wees nie.

Priester, dit was nie vir jou belangrik

om naby My te wees nie.

Daarom is dit nie

vir My belangrik

dat jy my priester is nie.

Jy wou nie doen

wat jou God wil hê nie.

Daarom wil Ek nie hê jou seuns

moet priesters wees nie.

7“Die priesters het baie geword,

en hulle doen baie sonde

teen My.

Hulle dink hulle is baie belangrik,

maar Ek sal hulle verneder.

8Priesters, julle is bly

wanneer my volk baie sonde doen,

want dan bring die mense

baie sonde-offers,

en dan kan julle daarvan eet.

9“Dit sal met die priesters gaan

soos met die volk.

Ek sal elkeen straf

wat verkeerde dinge doen.

10Hulle sal eet,

maar hulle sal honger bly,

hulle sal by baie vroue slaap,

maar hulle sal nie kinders kry nie.

Hoekom?

“Want hulle het opgehou

om die Here te dien.

11Die priesters wil

niks anders doen nie,

hulle wil net by baie vroue slaap

en baie wyn drink.

12My volk het ook lief geword

vir wyn.

Daarom vra hulle vir 'n stuk hout

wat hulle moet doen.

Hulle dink hulle kieries

sal vir hulle sê

wat hulle wil weet.

Hulle doen dit omdat hulle graag

ander gode wil dien,

hulle is ontrou aan die Here.

13My volk offer op die berge

en op die heuwels,

hulle offer onder die groot bome,

want die bome het baie skaduwee.

Daarom slaap julle dogters

en skoondogters by ander mans.

14“Maar Ek sal hulle nie straf nie,

want hulle mans slaap

by die tempel-prostitute

en hulle offer saam met die tempel-prostitute.

'n Volk wat nie sy verstand

gebruik nie, sal sterf.

15“Mense van Israel,

julle wil graag ontrou wees.

Maar julle moenie

die mense van Juda verkeerd lei

sodat hulle ook ontrou word nie.

Julle moenie in die stad Gilgal

of in die sondestad Bet-El

gaan offer nie.

Julle moenie sê:

‘So seker soos die Here lewe’

wanneer julle dinge belowe nie.”

Die mense van Israel wil nie luister na die Here nie

16Ja, die mense van Israel

is net so hardkoppig soos koeie

wat nie wil luister na hulle eienaars nie.

Hulle wil nie luister na die Here nie.

Daarom sal die Here hulle nie oppas

soos 'n mens skape

in die veld oppas nie.

17Die mense van Efraim

hou van afgode.

Hulle moet dit los.

18Wanneer hulle klaar wyn gedrink het,

dan gaan slaap hulle by die prostitute.

Hulle leiers hou daarvan

om slegte dinge te doen.

19Wanneer die stormwind

hulle wegwaai,

dan sal hulle offers nie help nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help