Spreuke 28 - Bybel vir almal

Mense wat die Here dien, weet altyd wat om te doen

1'n Mens wat verkeerd doen, vlug,

ook wanneer niemand hom jaag nie.

Maar mense wat reg lewe,

is so dapper soos 'n leeu.

2Wanneer die mense in 'n land opstandig word,

dan is daar baie mense wat leiers wil wees.

Maar wanneer daar 'n verstandige mens is

wat weet wat die regte ding is om te doen,

dan sal hy lank regeer.

3'n Arm mens wat ander arm mense verdruk,

is soos reën wat al die grond wegspoel,

sodat daar niks is om te eet nie.

4Mense wat nie doen wat die Here wil hê nie,

prys die mense wat verkeerd doen,

mense wat doen wat die Here wil hê,

hou nie van die mense wat verkeerd doen nie.

5Slegte mense weet nie hoe om reg te doen nie,

maar mense wat die Here dien,

weet altyd wat om te doen.

6Dit is beter om arm en eerlik te wees

as om oneerlik te wees en dan ryk te word.

7'n Verstandige seun doen wat die Here wil hê,

maar 'n pa voel sleg wanneer sy seun vriende is

met mense wat altyd wil spot.

8Iemand wat ryk word omdat hy mense

te veel rente laat betaal,

maak baie goed bymekaar,

maar eendag sal iemand anders wat jammer is

vir arm mense, daardie goed kry.

9Wanneer iemand nie wil hoor

wat die Here in sy wette sê nie,

dan sal die Here dit haat wanneer daardie mens bid.

10Wanneer iemand eerlike mense verlei

sodat hulle verkeerd lewe,

dan sal dit sleg gaan met hom,

maar dit sal goed gaan met mense

wat heeltemal reg lewe.

11'n Ryk mens sal miskien dink

dat hy baie wysheid het,

maar 'n arm mens wat verstandig is,

weet watter soort mens die ryk mens is.

12Wanneer mense wat reg lewe, bly is,

dan is almal trots daarop,

maar wanneer mense wat verkeerd doen,

begin regeer,

dan kruip die ander mense weg.

13Wanneer iemand sy sondes wegsteek,

dan sal dit nie goed gaan met hom nie,

maar wanneer hy sy sondes bely en ophou

om sonde te doen,

dan sal die Here weer goed wees vir hom.

14Dit gaan goed met iemand

wat altyd bang is vir die Here,

maar dit sal sleg gaan met iemand

wat hardkoppig en ongehoorsaam is.

15Wanneer iemand wat altyd verkeerd doen,

regeer oor mense wat hulleself nie kan beskerm nie,

dan is hy soos 'n leeu wat brul

of soos 'n beer wat mense wil doodmaak.

16'n Onverstandige koning verdruk sy mense,

maar 'n koning wat dit haat om oneerlik te wees,

sal lank regeer.

17Wanneer 'n persoon iemand vermoor het,

dan sal hy moet aanhou vlug totdat hy ook sterf,

en niemand moet hom help nie.

18Wanneer iemand eerlik lewe,

dan sal hy veilig wees,

maar wanneer hy oneerlik is, dan sal hy skielik val.

19Wanneer iemand in sy grond werk,

dan sal hy genoeg hê om te eet.

Wanneer hy dinge doen wat niks beteken nie,

dan sal hy arm bly.

20Dit gaan baie goed met iemand wat altyd doen

wat hy belowe,

maar die Here sal die persoon straf wat gou ryk wil word.

21Dit is verkeerd om téén een persoon

en vír 'n ander persoon te wees

wanneer jy moet oordeel.

'n Mens moenie sonde doen nie,

ook nie wanneer iemand vir jou

met 'n stukkie kos wil betaal nie.

22'n Suinige mens wil altyd meer hê,

hy weet nie dat hy arm sal word nie.

23Wanneer iemand vir jou waarsku

en sê hoe jy moet lewe,

dan sal jy later vriendelik wees met hom,

maar jy sal nie vriendelik wees met iemand

wat net dinge sê om jou gelukkig te laat voel nie.

24Iemand wat sy ouers se goed steel

en dan sê hy doen niks verkeerd nie,

is 'n skelm en 'n dief.

25Iemand wat altyd meer wil hê,

laat mense twis met mekaar.

Die persoon wat in die Here glo, word ryk.

26Iemand wat dink net hy is reg, is 'n dwaas,

iemand wat wysheid het, sal vry wegkom.

27Iemand wat van sy goed vir arm mense gee,

sal nooit te min hê nie,

maar wanneer iemand wegkyk

en nie arm mense wil help nie,

dan sal baie mense hom vervloek.

28Wanneer mense wat verkeerd doen, begin regeer,

dan kruip die ander mense weg.

Wanneer die mense wat verkeerd doen, sterf,

dan word die mense wat reg lewe, baie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help