Jeremia 9 - Bybel vir almal

1Ek wens my kop was vol water,

en my oë fonteine vol trane.

Dan het ek elke dag en nag aangehou huil

oor my volk se manne

wat in die oorlog gesterf het.

2Ek wens iemand gee vir my 'n herberg in die woestyn,

dan sal ek daarnatoe gaan, weg van my volk,

want hulle is almal mense wat afgode dien,

hulle is almal ontrou aan die Here.

Hulle hou aan om slegte dinge te doen

3Die Here sê: “Hulle maak mense seer met wat hulle sê, soos pyle uit 'n boog mense seermaak. Hulle word sterk in die land, maar hulle is baie vals, hulle dien nie hulle God nie. Hulle hou aan om slegte dinge te doen, meer en meer, hulle maak of hulle My nie ken nie.

4Hulle moet oppas vir mekaar, hulle kan mekaar nie glo nie, want almal bedrieg mekaar en praat sleg van mekaar.

5Almal is vals en lieg vir mekaar. Hulle het geleer om aan te hou lieg, hulle kan nie ophou om verkeerd te doen nie.

6Hulle hou aan om mense te verdruk en te bedrieg. Hulle wil My nie ken nie.”

Dit het die Here gesê.

7Die Here wat oor alles regeer, sê:

“Omdat hulle dit alles doen,

sal Ek hulle straf.

Dit sal wees soos wanneer iemand

metaal in vuur gooi en dit smelt.

Ek kan nie anders met my volk doen nie.

8Wat hulle sê, is soos pyle wat mense

wil doodmaak.

Hulle sê hulle wil vrede hê met mekaar,

maar hulle is vals,

hulle wag net vir die regte tyd

om mekaar te laat swaarkry.

9Daarom moet Ek hulle straf,

dit is reg dat Ek hierdie volk straf.”

Dit het die Here gesê.

Jeremia sal huil en treur

10Ek, Jeremia, sal huil op die berge

en in die weivelde,

ek sal treur en 'n klaaglied sing,

want die berge en die weivelde is verwoes.

Niemand kom daar nie,

daar is nie skape of bokke nie,

en al die voëls en die wilde diere is weg.

11Die Here sê:

“Ek sal Jerusalem verwoes,

dit sal net hope klippe wees,

en daar sal jakkalse woon.

Ek sal die mense wegvat

uit die stede van Juda,

niemand sal daar woon nie.”

12Ek, Jeremia, het gevra:

“Waar is 'n wyse mens wat dit kan verstaan?

Met wie het die Here gepraat?

Wie kan vir ons sê hoekom dit gebeur het?

Hoekom is die land verwoes?

Hoekom het dit soos 'n woestyn geword

waar niemand verbygaan nie?”

13En die Here het gesê:

“Dit het gebeur omdat die mense

van Juda en Jerusalem

nie gedoen het wat Ek wil hê nie

en omdat hulle nie gehoorsaam was

aan My nie.

Hulle het nie gelewe soos Ek wil hê nie,

14hulle was hardkoppig,

hulle het gelewe soos hulle self besluit het.

Hulle het die Baäls gedien

soos hulle voorvaders vir hulle geleer het om te doen.”

15Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê:

“Omdat hierdie volk dit gedoen het,

laat Ek hulle swaarkry en sterf.

Dit sal wees soos wanneer mense

wilde-als geëet en gif gedrink het.

16Ek sal hulle na al die kante toe jaag

tussen ander volke in,

volke wat hulle en hulle voorvaders

nie geken het nie.

Ek sal vyande stuur om hulle dood te maak

totdat hulle almal dood is.”

Roep die huilvroue

17Die Here wat oor alles regeer, sê:

“Roep die huilvroue.

Laat kom die vroue wat weet hoe om te treur.”

18En die volk het gesê:

“Die vroue moet gou maak

en hulle moet oor ons kom treur,

sodat ons oë ook vol trane kan word

en ons saam kan huil.”

19Ons hoor hoe huil die mense in Sion.

Hulle sê:

“Die vyande het ons weggejaag

en ons het alles verloor,

ons moet weggaan uit die land,

want hulle het ons huise afgebreek.”

20Maar, vroue, julle moet luister

wat sê die Here nog.

Julle moet vir julle dogters leer om te treur

en 'n klaaglied te sing,

21want daar is pes in die stad,

die dood het by ons vensters ingeklim,

en ons kinders en ons jongmense sterf

op die strate en op die oop stukke grond.

22Julle moet sê wat die Here sê:

Die lyke van die mense sal soos mis

op die grond val of soos koring-are

wat val wanneer iemand dit afsny

en niemand tel dit op nie.

As iemand wil spog

23Die Here sê:

“Die wyse mens

moenie spog oor sy wysheid nie,

die sterk mens moenie spog oor sy krag nie,

die ryk mens moenie spog oor alles wat hy het nie.

24Maar as iemand wil spog,

dan moet hy hieroor spog:

dat hy My, die Here, ken en dat hy weet

Ek doen wat Ek belowe het.

Ek doen reg en Ek is goed

vir al die mense op die aarde.

Ja, dit is waarvan Ek hou.”

25-26Die Here sê: “Eendag sal Ek almal straf wat besny is: die mense van Egipte en Juda en Edom, die Ammoniete, die mense van Moab en die mense wat in die woestyn woon en wat die kante van hulle koppe kaal skeer. Hulle is besny maar hulle dien My nie, en die hele volk Israel wat besny is, dien My ook nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help