Psalms 27 - Bybel vir almal

Die Here beskerm my lewe

1Van Dawid.

Die Here laat my lewe, Hy help my,

daarom is ek vir niemand bang nie.

Die Here beskerm my lewe,

daarom skrik ek vir niemand nie.

2Wanneer slegte mense kom om my aan te val,

wanneer my vyande my wil doodmaak,

dan is dit my vyande wat gly en val.

3Wanneer soldate my van al die kante aanval,

dan sal ek nie bang word nie.

Wanneer vyande oorlog begin maak teen my,

dan sal ek nog glo dat die Here my sal help.

4Een ding het ek vir die Here gevra

en dit wil ek altyd hê:

Ek wil my hele lewe lank in sy tempel wees

om te sien dat Hy goed is vir my

en om vir Hom te mag vra wat Hy wil hê ek moet doen.

5Want Hy sal my beskerm wanneer daar gevaar kom,

Hy sal my veilig in sy tempel laat bly

soos wanneer 'n mens hoog op 'n rots staan.

6Daarom, ek sal wen teen my vyande rondom my,

en ek sal juig en offers bring in sy tempel,

ek sal sing en musiek maak vir die Here.

7Here, U moet luister wanneer ek tot U bid,

U moet genadig wees en U moet my antwoord.

8Ek onthou dat U gesê het ons moet U kom dien,

en ek het gekom om U te dien.

9U moenie keer wanneer ek U wil dien nie,

U moenie vir my wegstuur nie.

U het my altyd gehelp,

moenie my nou los nie,

moenie weggaan van my nie,

want U is die God wat my red.

10My pa en my ma sal my miskien los,

maar die Here sal my by Hom hou.

11Here, leer vir my hoe U wil hê ek moet lewe,

lei my op 'n veilige pad, want ek het baie vyande.

12My vyande vertel leuens oor my,

hulle wil hê ek moet sterf.

U moenie dat hulle met my doen

wat hulle so graag met my wil doen nie.

13Hulle wil dit doen,

maar ek glo dat ek in hierdie lewe

nog sal sien dat die Here goed is.

14Jy moet glo dat die Here jou sal help,

jy moet sterk wees, jy moet dapper wees,

jy moet glo dat die Here jou sal help.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help