Psalms 81 - Bybel vir almal

My volk het nie na My geluister nie

1Vir die leier van die koor: Dieselfde musiek soos vir die lied oor die parskuip. Van Asaf.

2Julle moet juig, julle moet skree

vir die God wat ons beskerm,

vir die God van Jakob.

3Julle moet musiek maak

en op tamboeryne slaan,

julle moet mooi musiek maak

met liere en harpe.

4Julle moet die ramshoring blaas

op Nuwemaan-dag,

en ook wanneer dit volmaan is,

die dag wanneer ons feesvier.

5Want dit is 'n wet vir die mense van Israel,

die God van Jakob het dit besluit,

6Hy het dit vir die nageslag van Josef gesê

toe hulle uit Egipte gekom het.

Ek het 'n stem hoor praat wat ek nie ken nie.

7Die stem het gesê:

“Julle moes swaar goed dra,

maar Ek het dit afgehaal van julle skouers,

julle kon die mandjies neersit.

8Julle het geskree

toe dit sleg gegaan het met julle,

en Ek het julle gered.

'n Donker wolk het My toegemaak,

en Ek het gedoen wat julle gevra het.

Ek het julle getoets by die Meriba-water.

Sela

9“My volk, julle moet luister

wanneer Ek julle waarsku.

Ek wens Israel wil luister na My.

10Julle moenie ander gode by julle hê nie,

julle moenie buig vir die gode

van ander volke nie.

11Dit is Ek, julle God die Here

wat vir julle uit die land Egipte gebring het.

Ek sal vir julle alles gee

wat julle nodig het om te lewe.

12“Maar my volk het nie geluister na My nie,

Israel wou My nie hê nie.

13Hulle was hardkoppig en Ek het hulle gelos

en hulle het gedoen wat hulle self besluit het.

14As my volk Israel na My geluister het,

as hulle gelewe het soos Ek wil hê,

15dan sou Ek hulle vyande gou oorwin het

en gestraf het.

16Die mense wat My haat,

sou voor my volk moes kom kruip,

Ek sou nie opgehou het om hulle te straf nie.

17Maar Ek sou julle laat eet het van die beste koring,

ek sou vir julle heuning uit die rotse gegee het,

meer as genoeg.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help