Psalms 89 - Bybel vir almal

Hoekom doen U nie meer wat U belowe het nie?

1'n Lied. Van Etan, die Esragiet.

2Here, ek wil altyd sing en sê

dat U elke maal doen wat U belowe het,

ek wil vir elke geslag leer

dat U altyd dieselfde bly.

3Ja, ek sê dat U altyd doen wat U belowe het,

U sal dieselfde bly, soos die lug daarbo.

4U het gesê:

“Ek het 'n verbond gemaak met die man wat Ek gekies het,

Ek het vir my dienaar Dawid belowe en gesê:

5Jy sal altyd 'n nageslag hê,

iemand van jou nageslag sal altyd koning wees.”

Sela

6Here, almal in die hemel

moet praat oor u wonderwerke,

die vergadering van die engele moet praat en sê

dat U altyd dieselfde bly.

7Want niemand anders in die hemel

is soos die Here nie,

nie een van die engele kan doen wat U doen nie.

8U is God, almal is bang vir U,

almal in die groot vergadering van die engele.

Almal rondom U respekteer U en dien U.

9Here, God wat oor alles regeer,

niemand is so sterk soos U nie.

Here, almal rondom U weet

dat U altyd dieselfde bly.

10Dit is U wat die wilde see stil maak,

dit is U wat die hoë branders stil laat word.

11Dit is U wat vir Rahab geslaan het

sodat hy gesterf het,

dit is U wat u vyande na al die kante toe gejaag het,

want U is sterk.

12Die hemel behoort aan U,

die aarde behoort ook aan U,

die wêreld en alles daarop.

U het hulle vas laat staan vir altyd.

13U het besluit waar die noorde en die suide moet wees,

Tabor-berg en Hermon-berg juig omdat hulle U ken.

14U is sterk, U het baie krag,

U kan doen wat U wil doen.

15U is die Koning wat reg doen aan almal

en wat reg oordeel.

U doen wat U belowe het

en U bly dieselfde.

16Here, dit gaan goed met 'n volk

wat weet hoe om vir U te juig

en wat naby U kan lewe.

17Hulle juig die hele dag

omdat hulle U ken,

hulle vertel vir almal dat U reg doen.

18Hulle is sterk omdat U, die Koning, by hulle is,

ons is sterk omdat U lief is vir ons.

19Die Here, die Heilige God van Israel,

het ons koning vir ons gegee,

die koning wat ons moet beskerm.

20Lank gelede het U verskyn

aan die mense wat in U glo,

en U het gesê: “Ek het besluit dat Ek

'n belangrike man sal help.

Ek het iemand van die volk gekies

en Ek het hom belangrik gemaak,

21Ek het my dienaar Dawid laat kom

en Ek het hom gesalf met my gewyde olyf-olie.

22Ek sal hom beskerm en hom sterk maak.

23Sy vyande sal hom nie kan bedrieg nie,

niemand sal hom verdruk nie.

24Ek sal die mense doodmaak wat teen hom is,

Ek sal die mense doodslaan wat hom haat.

25Ek sal dieselfde bly vir hom,

Ek sal doen wat Ek belowe het,

Ek sal hom sterk maak.

26Ek sal hom laat regeer oor ver lande

tot by die see en die riviere.

27Hy sal vir My sê: ‘U is my Vader, my God,

die Rots wat my red.’

28En Ek sal vir hom sê hy is vir My

so belangrik soos 'n oudste seun,

hy is die belangrikste koning op die aarde.

29Ek sal altyd vir hom doen wat Ek belowe het,

Ek sal nooit my verbond met hom breek nie.

30Hy sal altyd 'n nageslag hê,

iemand van sy nageslag sal koning wees

so lank soos die son daar is.

31As 'n persoon van sy nageslag ophou

om te doen wat Ek wil hê

en nie lewe soos Ek sê nie,

32as hy maak of dit nie belangrik is

om so te lewe nie,

en hy doen nie wat Ek sê nie,

33dan sal Ek hom straf omdat hy opstandig is.

Ek sal hom laat swaarkry omdat hy sonde doen.

34Maar Ek sal nie ophou

om vir hom te doen wat Ek belowe het nie,

Ek sal altyd dieselfde bly.

35My verbond sal vir My belangrik bly,

Ek sal nie verander wat Ek gesê het nie.

36Ek het dit voorheen belowe, Ek, die heilige God,

en Ek sal nie vir Dawid bedrieg nie.

37Sy nageslag sal nooit ophou nie,

iemand van sy nageslag sal koning wees

so lank soos die son daar is.

38Dit is so seker soos die maan,

die getuie wat altyd in die lug is.”

39Maar, Here, U is nou kwaad vir u gesalfde,

U het hom weggestoot, U het hom gelos.

40U het gemaak of U nie 'n verbond met u dienaar

gemaak het nie,

U het sy kroon op die grond laat val,

en dit het vuil geword.

41U het al die mure om sy stad laat afbreek,

U het sy sterk mure laat verwoes.

42Almal wat daar verbykom op die pad,

vat die goed in die stad,

die volke daar naby spot en lag vir die koning.

43U het sy vyande laat wen teen hom,

U het al sy vyande bly gemaak.

44U het sy eie swaard stomp gemaak,

hy kon nie wen en bly staan in die oorlog nie.

45U het hom laat ophou om koning te wees,

U het sy troon omgegooi, dit lê op die grond.

46U het hom gou oud laat word,

U het hom alles laat verloor.

Sela

47Here, hoe lank wil U nog maak

of U dit nie weet nie?

Altyd?

Hoe lank wil U kwaad bly

en ons laat brand soos in 'n vuur?

48U moet onthou dat my lewe kort is.

U het al die mense so gemaak

dat hulle maklik sterf.

49Watter mens wat lewe, sal nie sterf nie?

Niemand.

Watter mens kan homself vrymaak van die dood?

Niemand.

Sela

50U het altyd gedoen wat U belowe het,

hoekom doen U dit nie nou ook nie?

Hoekom het U nie dieselfde gebly

soos U vir Dawid belowe het nie?

51My Here, U moet daaraan dink

dat mense vir my, u dienaar, gespot het.

Ek het gehoor hoe al die volke my spot.

52Here, die mense wat my spot, is u vyande,

hulle het vir my, u gesalfde, gespot oral waar ek gaan.

53Julle moet die Here altyd prys.

Amen en amen.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help