Spreuke 1 - Bybel vir almal

1 Spreuke van Salomo seun van Dawid, koning van Israel.

Spreuke leer vir jou wysheid

2Spreuke leer vir jou wysheid. Dit leer vir jou om te weet wanneer mense verstandige dinge sê,

3en dit leer vir jou om te luister wanneer iemand vir jou die regte dinge leer oor wat goed en reg en regverdig is.

4Spreuke maak jong mense wat baie min weet, verstandig, sodat hulle sal weet wat die regte dinge is om te doen.

5 Wyse mense moet ook luister na die spreuke, sodat hulle nog meer sal weet. Verstandige mense moet leer,

6sodat hulle die spreuke en die slim dinge wat wyse mense sê, sal verstaan.

7Jy moet gehoorsaam wees aan die Here en jy moet Hom respekteer. As jy dit doen, dan is jy regtig slim. Dit is dwase wat dink dit is nie belangrik om wysheid te hê en om te leer nie.

8My kind, jy moet luister na wat jou pa en jou ma vir jou wil leer, jy moenie vergeet wat hulle vir jou leer nie.

9As jy dit nie vergeet nie, dan sal jy 'n mooi lewe hê.

Wanneer sondaars jou verkeerd wil laat doen

10My kind, wanneer sondaars jou verkeerd wil laat doen, dan moet jy nie luister na hulle nie.

11Hulle sal miskien vir jou sê: “Kom saam met ons, dan wag ons totdat iemand verbykom, en dan maak ons hom dood, dit maak nie saak of hy niks verkeerd gedoen het aan ons nie.

12Hy is nog lewendig en gesond wanneer ons hom vang, maar ons sal hom laat sterf en laat afgaan na die doderyk, na die graf.

13Dan sal ons baie kosbare goed kry en ons sal ons huise volmaak met die goed wat ons vat.

14Jy sal een van ons wees en ons sal almal kry van die goed wat ons vat.”

15My seun, jy moenie dan saam met daardie mense gaan nie,

16want hulle wil verkeerde dinge gaan doen, hulle wil mense vermoor.

17Wanneer 'n voël 'n vangnet sien wat mense vir hom styfgetrek het, dan vlieg die voël nie vas in die net nie.

18Maar hierdie mense trek 'n net styf vir hulleself, hulle sal in hulle eie net sterf.

19Elke mens wat ander mense se goed wil vat, sal sterf. Dit is wat met hom sal gebeur.

Die wysheid is soos 'n vrou wat roep

20Die wysheid is soos 'n vrou

wat langs die straat staan en roep.

Sy skree op die oop stukke grond

in die stad,

21sy skree by die plekke

waar die mense bymekaarkom,

sy staan voor die poorte van die stad

en sy sê:

22“Julle wat baie min weet,

hoe lank sal julle tevrede wees

om min te weet?

Hoe lank sal dit lekker wees

vir mense om aan te hou spot,

hoe lank sal dwase dit haat

om dinge te weet?

23Julle moet weer kom luister

na wat ek vir julle wil leer.

Ek sal vir julle alles sê wat ek weet,

ek sal julle help om te verstaan wat ek sê.

24Toe ek geskree het, wou julle nie luister nie,

toe ek my hand uitgesteek het om julle te roep,

het niemand gekyk nie.

25Julle het gemaak of julle nie hoor

wat ek alles gesê het nie,

julle wou nie dat ek vir julle leer nie.

26Daarom sal ek ook lag en spot

wanneer dit sleg begin gaan met julle,

wanneer julle skrik.

27Julle sal skrik soos wanneer daar

'n stormwind kom,

soos wanneer 'n sterk wind alles verwoes

en julle baie bang word.

28Dan sal julle skree en vra dat ek moet help,

maar ek sal nie antwoord nie,

julle sal my soek, maar julle sal my nie kry nie.

29Dit sal gebeur omdat julle dit haat

om dinge te weet,

en omdat julle nie gehoorsaam wou wees

aan die Here en Hom nie wou eer nie.

30Julle wou nie luister na wat ek

vir julle sê nie,

ek wou vir julle leer, maar julle het gedink

dit is onbelangrik.

31Nou sal julle swaarkry

oor wat julle gedoen het,

julle sal baie probleme kry

oor julle eie planne.

32Ja, mense wat min weet,

sterf omdat hulle nie wil luister nie,

dwase gaan dood omdat hulle tevrede is

met hulleself.

33Maar die mense wat na my luister,

woon veilig,

hulle is nie bekommerd nie,

hulle is nie bang dat dit sleg sal gaan nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help