Spreuke 26 - Bybel vir almal

Niemand dink dat mense 'n dwaas moet respekteer nie

1Niemand dink dat dit moet sneeu in die somer nie,

niemand dink dat dit moet reën

wanneer hy die ryp koring wil afsny nie,

niemand dink dat mense 'n dwaas

moet respekteer nie.

2As iemand jou vervloek wanneer jy niks

verkeerd gedoen het nie,

dan is dit soos voëltjies

wat vlieg en nie gaan sit nie,

dit gaan by jou verby.

3'n Mens gebruik 'n sweep vir 'n perd,

'n toom vir 'n donkie,

en 'n lat vir 'n dwaas.

4As 'n dwaas dom dinge sê, en jy antwoord hom nie,

dan sal hy dink jy is ook dom.

5As 'n dwaas dom dinge sê, en jy antwoord hom,

dan sal hy dink hy het wysheid.

6Wanneer jy 'n dwaas stuur

om 'n boodskap te bring,

dan sal hy nie die boodskap reg bring nie,

en dan sal iemand vir jou wil seermaak.

7'n Lam mens kan nie sy bene gebruik nie,

dwase kan nie 'n spreuk gebruik

wanneer hulle praat nie.

8Jy kan nie 'n klip met 'n slingervel gooi

as jy die klip vasgebind het in die slingervel nie,

jy kan ook nie vra dat mense 'n dwaas moet respekteer nie.

9Wanneer 'n dwaas 'n spreuk wil gebruik

wanneer hy praat,

dan is hy soos 'n dronk man wat 'n doringtak

in sy hand het.

10Wanneer jy 'n dwaas huur

of jy huur enige iemand wat by jou verbykom,

dan is jy soos iemand wat almal

rondom jou wil skiet.

11'n Dwaas wat twee maal

dieselfde dom ding doen,

is soos 'n hond wat terugkom na die kos

wat hy opgebring het.

12Wanneer jy iemand sien wat dink

net hý het wysheid,

dan sien jy iemand met wie

dit slegter sal gaan as met 'n dwaas.

Lui mense en mense wat twis

13'n Lui mens sê: “Daar is 'n leeu daar buite.

Hy sal my vang as ek uitgaan.”

14'n Deur draai altyd op sy skarnier,

'n lui mens hou aan om op sy bed om te draai.

15'n Lui mens steek sy hand in die kosbak,

maar hy is te moeg om sy hand terug te bring

na sy mond.

16'n Lui mens dink hy het meer wysheid

as sewe mense wat verstandig kan antwoord.

17Iemand wat kwaad word en saam twis

wanneer ander mense stry,

is soos iemand wat 'n kwaai hond se ore gryp.

18-19Iemand wat ander mense bedrieg en dan sê:

“Ek het gespeel en 'n grap gemaak,”

is soos 'n mal mens wat brandpyle skiet

wat mense kan laat sterf.

20As daar nie hout is nie,

dan kan 'n vuur nie brand nie,

as niemand skinder nie,

dan sal mense nie twis nie.

21Daar moet hout wees as jy wil vuurmaak,

daar moet houtskool wees as jy warm kole wil hê,

en daar moet iemand wees wat wil baklei

as jy wil hê mense moet twis.

22Skinderstories is soos lekkers,

mense glo graag skinderstories.

23Wanneer jy mooi dinge sê maar slegte dinge dink,

dan is dit soos wanneer jy 'n stuk van 'n kleipot

met silwer oortrek.

24'n Mens wat vir jou haat, sê miskien mooi dinge,

maar hy hou aan om te dink hoe hy jou kan bedrieg.

25Hy praat miskien vriendelik,

maar jy moenie vir hom glo nie,

want hy dink aan baie dinge wat jy sal haat.

26Hy sê nie dat hy jou haat nie,

maar hy bedrieg jou.

Almal sal weet dat hy slegte dinge wil doen.

27Iemand wat vir ander mense 'n gat grawe,

sal self in die gat val.

Die klippe wat hy gooi, sal na hom toe terugkom.

28Iemand wat lieg, haat die mense

wat hy seergemaak het,

hy sê mooi dinge, maar hy wil mense laat sterf.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help