Job 35 - Bybel vir almal

Elihu praat die derde maal

1Elihu het nóg gepraat en hy het gesê:

2“Job, dink jy dit is reg

dat God moet sê jy is onskuldig?

3Nee, jy vra vir God: ‘Wat sal U vir my doen?

Help dit vir my dat ek nie sonde gedoen het nie?’

4Ek sal jou antwoord,

en ek sal ook jou vriende saam

met jou antwoord.

5Kyk op in die lug, kyk goed,

kyk na die wolke hoog bokant jou.

6As jy sonde gedoen het,

wat kan dit aan God doen?

As jy aangehou het om verkeerd te doen,

wat doen dit aan Hom?

7Of as jy nie verkeerd gedoen het nie,

wat doen jy vir God, wat kry Hy van jou?

8Wanneer jy verkeerd doen,

dan is dit ménse wat swaarkry,

mense soos jy.

En wanneer jy reg doen, dan doen jy dit aan ménse.

9Wanneer iemand ander mense verdruk,

dan skree hulle en hulle vra dat iemand moet help.

Hulle roep en vra dat iemand hulle moet help

teen mense wat sterker is as hulle.

10Maar hulle vra nie vir God om hulle te help nie,

God wat hulle gemaak het en wat hulle laat sing

ook wanneer dit donker is om hulle.

11God leer vir ons meer as vir die diere,

Hy maak ons slimmer as die voëls,

ons verstaan beter.

12Daarom doen Hy niks

wanneer daardie mense skree en vra

dat iemand hulle moet help nie,

want hulle is hoogmoedig en sleg.

13Dit help niks dat hulle skree nie,

God hoor hulle nie,

die Almagtige sien hulle nie.

14Job, God sal nog minder luister na jou

as jy sê dat jy Hom nie sien nie,

as jy sê dat jy gekla het by Hom

en dat jy nou wag dat Hy iets moet doen.

15Jy sê ook dat God nie mense straf

wanneer Hy kwaad is nie,

en dat Hy ook nie baie goed kyk

wanneer mense sonde doen nie.

16Nee, Job, jy sê dinge wat nie is

soos dit moet wees nie,

jy praat en praat, maar jy weet niks.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help