Psalms 35 - Bybel vir almal

U moet my kom help

1Van Dawid.

Here, U moet sê die mense wat my beskuldig,

is self skuldig,

U moet oorlog maak teen die mense

wat oorlog maak teen my.

2U moet die groot skild en die klein skild gryp

en U moet my kom help.

3U moet die spies vat en die mense keer

wat my jaag en my wil vang,

U moet vir my sê dat U my sal red.

4Die mense wat wil hê dat ek moet sterf,

moenie wen nie,

hulle moet verloor.

Die mense wat wil hê dat ek moet sterf,

moet ophou om my aan te val,

hulle moenie weet wat om te doen nie.

5Hulle moet wees soos kaf

wat in die wind wegwaai

wanneer die Engel van die Here hulle wegjaag.

6Hulle paaie moet donker en glad wees,

en die Engel van die Here moet hulle jaag.

7Ek het niks gedoen nie,

maar hulle grawe vir my 'n gat om in te val,

ek het niks gedoen nie,

maar hulle wil my doodmaak.

8U moet dit sleg laat gaan met hulle,

en dit moet gebeur voordat hulle besef

dat dit gebeur het.

Die vangnet wat hulle styfgetrek het,

moet hulleself vang,

hulle moet in die vangnet val en sterf.

9Maar ek?

Ek sal juig oor wat die Here

gedoen het,

ek sal vrolik wees omdat Hy my gered het.

10Ek sal met my hele hart sê:

Here, daar is niemand soos U nie,

U wat die mens red wat homself nie kan red nie,

die mens wat niks het nie,

U wat hom red van die mense

wat sterker is as hy en wat hom verdruk.

11Die mense wat my beskuldig, is my vyande,

hulle sê ek het dinge gedoen,

maar ek weet niks daarvan nie.

12Ek het goed gedoen aan hulle,

maar hulle wil dit sleg laat gaan met my,

en ek het niemand wat my kan help nie.

13Maar ek?

Ek het rouklere aangetrek

en sonder kos gebly toe hulle siek was.

Ek het my kop gebuig en gebid

14soos ek vir 'n broer of 'n vriend bid.

Ek het krom geloop en getreur,

ek het gerou soos ek vir my eie ma sal rou.

15Maar toe dit sleg gaan met my, was hulle bly.

Hulle het om my kom staan en hulle het my gespot.

Mense wat ek nie ken nie,

het aangehou om lelike dinge vir my te sê.

16Dit is vir die mense wat nie die Here dien nie,

lekker om vir my te lag,

hulle wil hê dat ek moet sterf.

17Here, hoe lank sal U dit nog sien

en niks doen nie?

U moet my red van hierdie mense

wat my wil aanval soos leeus.

18Ek sal vir U dankie sê

in die groot volksvergadering,

ek sal U prys waar almal bymekaar is.

19U moenie dat my vyande bly is

oor wat met my gebeur nie,

U moenie dat die mense wat my haat, lekkerkry nie,

ek het niks verkeerd gedoen nie.

20Want hulle wil hê

dat dit nie goed moet gaan met my nie.

Hulle vertel leuens oor mense

wat vir niemand in die land pla nie.

21Hulle maak hulle monde groot oop,

hulle sê: “Ja, ons het dit self gesien!”

22Here, U het dit gehoor, U moenie stilbly nie.

My Here, U moenie ver van my wees nie.

23U moet kom, my God en my Here,

U moet help dat hulle my reg oordeel.

24U doen reg, Here my God,

U moet my oordeel,

U moenie dat hulle bly is

oor wat met my gebeur nie.

25U moenie dat hulle vir hulleself kan sê:

“Dit is goed, dit is wat ons wou hê,

ons het hom heeltemal gewen!”

26U moet die mense laat verloor wat bly is

omdat ek swaarkry,

U moet húlle verneder.

Die mense wat dink hulle is belangriker as ek,

U moet húlle laat voel hoe dit is om te verloor.

27Maar die mense wat wil hê ek moet wen,

U moet húlle laat sing en bly wees,

U moet hulle laat aanhou sê:

“Die Here is groot,

Hy wil hê dit moet goed gaan

met 'n mens wat Hom dien.”

28Ekself sal aanhou praat oor U

wat reg gedoen het,

ek sal U die hele dag lank prys.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help