Jesaja 47 - Bybel vir almal

Die Here sal Babel straf

1“Stad Babel, jy was soos 'n meisie

wat nie gewerk het nie

en wat altyd gekry het wat sy wil hê.

Maar nou moet jy afklim van jou stoel

en jy moet op die grond gaan sit.

2Jy moet 'n maalklip neem en jy moet meel maal,

jy moet jou sluier afhaal en jou rok optel

en jy moet kaalbeen deur riviere loop.

3“Die mense sal sien jy is kaal

en hulle sal vir jou kyk en jou spot.

Ek, die Here, sal jou straf.

Ek straf almal wat verkeerd doen.”

4Dit is die Here wat ons vrymaak.

Sy Naam is die Here wat oor alles regeer,

Hy is die Heilige God van Israel.

5“Babel, die mense het gesê

jy regeer oor al die lande,

maar hulle sal dit nie weer sê nie.

Jy moet nou stilbly en in die donker sit.

6Ek was kwaad vir my mense,

Ek het gesê my volk is nie meer goed

om My te dien nie

en Ek het hulle vir jou gegee

sodat jy hulle kan oorwin.

Jy was nie jammer vir hulle nie,

jy het ook die ou mense

baie swaar laat kry.

7Jy het gedink jy sal altyd belangrik wees,

jy het nie gedink

wat met jou kan gebeur nie.

8Jy het gevat wat jy wil hê

en jy dink jy is veilig.

Babel, jy dink jou mense

sal altyd in jou woon

en jy sal nie word soos 'n weduwee

wat haar kinders verloor het nie.

Maar nou moet jy luister.

9Twee dinge sal met jou gebeur,

dit sal skielik gebeur, op een dag:

Jy sal alleen wees soos 'n weduwee

en jy sal al jou mense verloor.

Jy het gedink jy kan alles regmaak

wanneer jy toor,

maar hierdie dinge sal met jou gebeur.

10Jy het gedink dit sal goed gaan

as jy slegte dinge doen,

jy het gedink niemand sien jou nie,

jy het gedink jy is baie slim.

Jy het vir jouself gesê:

‘Niemand is soos ek nie.’

11Maar dit sal skielik sleg gaan met jou.

Dit sal wees soos 'n storm

wat 'n mens nie kan keer nie

en dit sal nie help om te probeer toor nie.

12Jy het altyd probeer toor

en jy het gedink jy kan wonderwerke doen.

Miskien moet jy weer probeer,

miskien sal dit help.

13Jy het altyd vir jou slim mense gevra

wat jy moet doen,

die mense wat na die lug en die sterre kyk

en elke maand vir jou sê wat sal gebeur.

Jy moet nou weer vir hulle vra

om jou te help.

14Maar hulle is soos kaf wat brand,

hulle kan hulleself nie red nie.

Wanneer die kaf klaar gebrand het,

dan bly daar nie kole oor nie,

daar is nie kole waar jy kan sit

om jouself warm te maak nie.

15So sal dit gaan met al jou slim mense.

Jy het altyd vir hulle gevra wat jy moet doen,

maar hulle weet self nie wat om te doen nie,

hulle kan jou nie red nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help