Nahum 3 - Bybel vir almal

Dit sal sleg gaan met Nineve

1Die Here sê:

“Dit sal sleg gaan met Nineve.

Die mense van die stad

het baie mense vermoor.

Hulle is skelm,

die stad is vol goed

wat hulle van ander mense

gevat het.

2“Die vyande slaan die perde

met swepe.

Die oorlogkarre se wiele raas.

Die perde hardloop vinnig,

die oorlogkarre skud.

3“Die vyande kom vinnig nader

op hulle perde.

Hulle swaarde en hulle spiese

blink in die son.

Hulle maak baie mense dood.

Die lyke lê oral, die mense val

oor die lyke.

4“Nineve, dit sal alles gebeur

omdat jy soos 'n prostituut is,

'n mooi vrou wat getoor het.

Jy het ander mense gevat,

en hulle het jou slawe geword.

Jy het alles gevat wat hulle het.

5“Nou is Ek teen jou,”

sê die Here wat oor alles regeer.

“Ek sal met jou doen soos

'n mens met 'n slegte vrou doen:

Ek sal jou rok optel

sodat die ander volke

jou kaal liggaam kan sien.

Hulle sal sien jy is 'n slegte vrou.

6“Ek sal vuilgoed op jou gooi,

en die mense sal sleg dink van jou.

Hulle sal jou spot.

7Almal wat jou sien,

sal weggaan van jou en sê:

‘Nineve is verwoes!’

Niemand sal daaroor

jammer wees nie.

Ek kry niemand

wat jou kan troos nie.

8“Nineve, jy is nie beter

as die stad No-Amon nie.

No-Amon is langs die Nyl-rivier,

en daar is water rondom die stad

om die stad te beskerm.

9In die stad was soldate

van die land Kus

en van Egipte en van Put

en van Libië,

en daarom was No-Amon baie sterk.

10Maar die vyande het die mense

van No-Amon gevang

en weggevat na 'n ander land.

Die vyande het die babas

doodgemaak in die strate,

en hulle het lootjies getrek

om te sien wie kry

elkeen 'n belangrike mens

om sy slaaf te wees.

Hulle het die belangrike mense

vasgemaak met kettings

en hulle weggevat.

11“Mense van Nineve,

julle sal nie weet

waar julle is nie,

soos dronk mense.

Julle sal ook 'n plek soek

waar julle kan wegkruip

vir julle vyande.

12Al julle sterk huise is

soos ryp vye in vyebome.

Wanneer jy die bome skud,

dan val die vye in jou mond.

So maklik sal julle vyande

julle sterk huise vat.”

Niemand sal Nineve weer bou nie

13Julle soldate beteken niks.

Hulle is soos 'n klomp vroue.

Die poorte van julle stad

sal oop wees,

julle vyande sal die deure

in die poorte verbrand.

14Julle moet genoeg water

gaan haal en dit bêre,

want julle vyande sal kom wag

rondom die stad se mure.

Julle moet die stad se sterk mure

nog sterker maak.

Julle moet bakstene maak van klei.

15Julle sal brand in die vuur.

Die vyande sal julle doodmaak

soos sprinkane.

Julle het so baie geword

soos sprinkane.

16Julle handelaars was meer

as die sterre in die lug,

maar hulle is nou weg.

Hulle is weg soos sprinkane

wat wegvlieg

wanneer hulle klaar gevreet het.

17Die mense wat die stad

moes oppas, en die amptenare,

is soos sprinkane

wat na 'n ander plek vlieg.

Die swerms sprinkane

sit op die klipmure

wanneer dit koud is,

maar wanneer dit warm word,

dan vlieg hulle weg,

en niemand weet waarnatoe

hulle gaan nie.

18Koning van Assirië,

die leiers van jou mense slaap.

Jou mense het gevlug

en hulle is oral op die berge.

Daar is niemand

wat hulle bymekaarmaak nie.

19 Nineve, die vyande

sal jou verwoes,

en niemand sal jou weer bou nie.

Al die mense sal bly wees,

almal wat hoor wat met jou

gebeur het.

Hulle sal hande klap,

want jy het wrede dinge gedoen aan almal.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help