Jesaja 56 - Bybel vir almal

Die Here sal meer mense saam met die Israeliete bring

1Die Here sê:

“Julle moet aanhou doen

wat Ek vir julle gesê het.

Julle moet reg doen

aan ander mense,

want Ek sal gou kom

om my mense te red.

Almal sal dit sien.

2Dit sal goed gaan met iemand

wat die Sabbatdag nie ontwy nie,

en nooit verkeerde dinge doen nie.

3Daar is mense wat nie Israeliete is nie,

en wat My kom dien.

Hulle sê: ‘Die Here wil nie hê ons moet

aan sy volk behoort nie.’

En daar is mans wat ontman is.

Hulle sê: ‘Ek is soos 'n droë boom

wat nie vrugte kan dra nie.’

Hulle moenie so dink nie,

4want die Here sê:

‘Die mense wat ontman is, moet aanhou

om my Sabbatdag te vier

en om te doen wat Ek wil hê.

Hulle moet aanhou lewe soos Ek gesê het

toe Ek met die Israeliete 'n verbond gemaak het.

5Dan sal Ek hulle name opskryf

in my tempel

sodat almal dit altyd sal onthou.

Hulle name in die tempel

sal vir hulle belangriker wees

as seuns en dogters.

Hulle name sal altyd daar wees.

6-7En Ek sal die mense

wat nie Israeliete is nie

en wat My kom dien,

op my gewyde berg bring

sodat hulle bly sal wees

wanneer hulle in die tempel kom bid.

Hulle moet lief wees vir my Naam,

hulle moet my dienaars wees,

hulle moenie die Sabbatdag ontwy nie

en hulle moet aanhou lewe

soos Ek vir hulle gesê het

toe Ek met die Israeliete

'n verbond gemaak het.

Ek sal daarvan hou

dat hulle op my altaar offers bring,

almal sal weet dat al die volke

in my tempel kan kom bid.’ ”

8Dit is wat die Here gesê het, Hy wat Here is.

Vyande het die Israeliete weggejaag

uit hulle land,

maar die Here sal die Israeliete bymekaarmaak

en Hy sal nog meer mense

saam met hulle bring.

Die leiers van die volk weet nie hoe om hulle werk te doen nie

9“Al die wilde diere in die veld en in die bos,

julle moet die leiers van my volk kom op-eet.

10Die leiers wat die volk moet oppas,

is soos honde wat niks sien nie

en niks hoor nie,

hulle wil net lê en slaap.

11Hulle is soos honde wat altyd honger is

en nooit genoeg kos kry om te eet nie.

Of, hulle is soos skaapwagters

wat nie weet

hoe om hulle werk te doen nie.

Elkeen doen wat hy wil

en hy sorg net vir homself.

12Hulle sê vir mekaar:

‘Kom ons drink nog wyn.

Môre sal soos vandag wees,

nee, dit sal nog beter wees.’ ”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help