Spreuke 6 - Bybel vir almal

Wanneer jy borg gestaan het

1My kind, wanneer jy vir 'n vriend

borg gestaan het,

wanneer jy dit belowe het vir 'n vreemde mens,

2dan het jou eie woorde jou gevang,

en jy het groot probleme omdat jy dit gesê het.

3My kind, dít is wat jy dan moet doen:

Jy moet jouself red,

want daardie persoon kan nou besluit

wat met jou sal gebeur.

Jy moet by hom gaan soebat,

jy moet hom aanhou vra en lastig wees,

4jy moenie slaap of rus nie,

5jy moet jouself red soos 'n wildsbok homself red

van 'n jagter,

soos 'n voël homself red van 'n voëlvanger.

Lui mens, jy moet na die miere gaan

6Lui mens, jy moet na die miere gaan,

jy moet gaan kyk hoe hulle lewe

en jy moet leer van hulle.

7Die miere het nie 'n leier

of 'n voorman of 'n koning nie,

8maar hulle maak in die somer

kos gereed vir hulleself,

hulle maak kos bymekaar

wanneer daar kos is om bymekaar te maak.

9Lui mens, hoe lank wil jy slaap,

wanneer staan jy op?

10Jy wil elke maal nog 'n bietjie slaap,

nog 'n bietjie jou oë toemaak,

nog 'n bietjie hande vou en bly lê,

11maar jy sal arm word

soos iemand wat net rondloop

en nie werk nie,

jy sal honger word soos 'n bedelaar.

'n Slegte mens dink altyd hoe hy mense kan bedrieg

12'n Slegte mens, 'n skurk,

bedrieg oral mense,

13hy knip skelm sy oë, hy maak gebare

met sy vingers en voete,

14hy dink altyd hoe hy mense kan bedrieg,

hy laat mense twis met mekaar.

15Daarom, dit sal skielik sleg gaan met hom,

hy sal vinnig seerkry, en niemand sal hom help nie.

Dinge waarvan die Here nie hou nie

16Daar is ses dinge waarvan die Here nie hou nie,

daar is sewe dinge wat Hy haat.

17Dit is wanneer mense hoogmoedig is,

wanneer hulle lieg,

wanneer hulle mense vermoor,

18wanneer hulle slegte planne maak teen ander mense,

wanneer hulle haastig is om verkeerd te doen,

19wanneer hulle getuies is wat lieg,

en wanneer hulle die een broer

met die ander broer laat twis.

'n Man wat egbreuk pleeg, is baie dom

20My kind, jy moet onthou

wat jou pa vir jou sê,

jy moenie vergeet wat jou ma vir jou leer nie.

21Jy moenie dit vergeet nie,

jy moet dit elke dag onthou.

22Dan sal jy weet hoe jy moet lewe,

jy sal elke dag en elke nag weet

wat jy moet doen.

23Want die dinge wat jou pa vir jou sê,

is soos 'n lamp,

die dinge wat jou ma vir jou leer,

is soos 'n lig.

Iemand wat vir jou sê wat jy moet doen

en wat vir jou leer,

lei jou op die pad van die lewe.

24Hy beskerm jou teen die slegte vrou,

teen die skelm woorde van die vrou

wat nie jou vrou is nie.

25Jy moenie daardie vrou wil hê

omdat sy mooi is nie,

jy moenie dat sy jou vang met haar oë nie.

26Ja, jy kan 'n prostituut kry

en jy kan haar betaal met 'n rondebroodjie,

maar die vrou van 'n ander man

is soos 'n jagter,

jy kan die beste wat jy het, verloor,

jy kan jou lewe verloor.

27As iemand kole vuur

voor by sy klere ingooi,

dan sal sy klere aan die brand raak,

28of wanneer hy op warm kole loop,

dan sal sy voete brand.

29So sal dit gaan met iemand

wat by 'n ander man se vrou slaap,

die man wat aan haar raak,

sal nie vry wegkom nie,

haar man sal hom straf.

30Wanneer 'n dief steel,

dan sal mense altyd dink

hy doen verkeerd,

ook wanneer hy steel

omdat hy honger is.

31Wanneer mense uitvind dat hy gesteel het,

dan sal hy sewe maal meer moet teruggee,

hy sal alles moet gee wat daar in sy huis is.

32'n Man wat egbreuk pleeg,

is baie dom, hy is mal.

Hy verwoes sy eie lewe

wanneer hy dit doen.

33Hulle sal hom slaan

en hulle sal hom verneder,

die mense sal aanhou om hom te spot.

34Want wanneer daardie vrou se man kwaad is,

dan is dit soos 'n vuur wat brand.

Wanneer hy jou straf oor wat jy gedoen het,

dan sal hy nie jammer wees vir jou nie.

35Hy sal nie geld van jou neem en jou los nie,

hy sal nie jou geld neem nie,

ook nie wanneer jy vir hom baie wil gee nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help