Spreuke 12 - Bybel vir almal

Mense wat reg lewe, dink reg

1Iemand wat daarvan hou dat mense

vir hom leer, wil graag dinge weet,

iemand wat nie daarvan hou dat mense

vir hom sê hoe hy moet lewe nie, is dom.

2Die Here is goed vir 'n goeie mens,

maar Hy straf mense wat skelm planne het.

3'n Mens wat verkeerd doen,

sal nie aanhou lewe nie,

maar die mense wat reg lewe,

sal vas bly staan en veilig wees.

4Mense respekteer 'n man wat 'n goeie vrou het,

maar wanneer 'n man skaam moet wees vir sy vrou,

dan is sy soos kanker in sy liggaam.

5Mense wat reg lewe, dink reg,

die planne van mense wat verkeerd doen, help niks.

6Wanneer die mense wat verkeerd doen, praat,

dan wil hulle ander mense laat sterf,

eerlike mense se woorde red hulle.

7Wanneer die mense wat verkeerd doen, sterf,

dan is hulle weg,

maar die nageslag van mense wat reg lewe,

sal altyd daar wees.

8Mense prys iemand wat verstandig praat,

maar hulle spot iemand wat dom dinge sê.

9Dit is beter om nie belangrik te wees nie

en 'n slaaf te hê,

as om baie belangrik te wees

en nie kos te hê om te eet nie.

10'n Mens wat reg lewe,

weet wat sy diere nodig het,

maar mense wat verkeerd doen, is wreed,

ook wanneer hulle probeer om goed te wees.

11Wanneer iemand in sy grond werk,

dan sal hy genoeg hê om te eet,

'n onverstandige mens doen dinge

wat vir hom niks help nie.

12'n Mens wat verkeerd doen,

dink hy sal veilig wees

wanneer hy slegte dinge doen,

mense wat reg lewe, is veilig.

13Die verkeerde dinge wat 'n slegte mens sê,

is soos 'n vangstrik wat hom vang,

maar wanneer 'n mens reg lewe,

dan sal dit nie vir hom gevaarlik wees nie.

14Wanneer 'n mens die regte dinge sê,

dan sal dit baie goed gaan met hom,

en wanneer hy met sy hande werk,

dan sal hy beloning kry.

Wyse mense en dwase

15'n Dwaas dink dit is reg

om te lewe soos hy wil,

maar 'n wyse mens luister

wanneer iemand vir hom sê wat om te doen.

16'n Dwaas wys dadelik wanneer hy kwaad is,

'n verstandige mens wys nie hoe hy voel

wanneer mense hom beledig nie.

17Wanneer iemand die waarheid praat,

dan bring hy 'n boodskap wat reg is,

'n getuie wat lieg, wil mense bedrieg.

18Wanneer mense praat en nie dink wat hulle sê nie,

dan maak hulle ander mense seer.

Wyse mense sê dinge wat ander mense beter laat voel.

19Woorde wat die waarheid is, bly altyd waar,

maar mense weet gou wanneer iemand 'n leuen vertel.

20Mense wat planne maak om slegte dinge te doen,

wil ander mense bedrieg,

mense wat planne maak om dit goed te laat gaan,

maak ander mense bly.

21Met die mens wat reg lewe,

gebeur daar niks wat sleg is nie.

Maar dit gaan altyd sleg met mense wat verkeerd doen.

22Die Here haat iemand wat lieg,

maar Hy hou van mense wat die regte dinge doen.

23'n Verstandige mens sê nie vir almal wat hy weet nie,

maar 'n dwaas skree en sê die dom dinge waaraan hy dink.

24Mense wat fluks werk, sal oor ander mense regeer,

maar lui mense sal soos slawe moet werk.

25'n Mens wat bekommerd is, voel nie gelukkig nie,

maar 'n vriendelike woord maak hom bly.

26'n Mens wat reg lewe, loop op die pad

wat 'n vriend vir hom wys,

mense wat verkeerd doen, verdwaal op die pad

wat hulle self kies.

27'n Lui mens kry niks,

hy vang ook nie diere in die veld om te eet nie,

'n mens wat fluks werk,

maak vir hom kosbare dinge bymekaar.

28Wanneer mense aanhou om reg te doen,

dan hou hulle aan om te lewe,

wanneer hulle aanhou om so te lewe,

dan sal hulle nie sterf nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help