Hooglied 1 - Bybel vir almal

1Die mooiste lied. Van Salomo.

Ons moet sing daaroor dat jy lief is vir my

2Sy sê: “Hy moet my soen,

hy moet aanhou om my te soen!

Ja, jy is lief vir my, en dit is lekkerder as wyn.

3Jy ruik so lekker soos goeie olyf-olie,

wanneer ek jou naam hoor,

dan is dit soos lekkerruik-olie.

Dit is hoekom meisies verlief is op jou.

4Jy moet my saam met jou neem,

ons moet hardloop!

Die koning het my na sy kamer gebring.

Ons moet juig, ons moet vir almal wys

dat ons bly is,

ons moet sing daaroor dat jy lief is vir my,

dit is lekkerder as wyn.”

Ek is bruin gebrand, maar ek is mooi

5Sy sê: “Meisies van Jerusalem,

ek is bruin gebrand, maar ek is mooi,

so mooi soos die tente in die land Kedar,

soos die tente van Salomo.

6Julle kyk na my omdat ek bruin gebrand is,

omdat die son my so gebrand het.

Julle moenie so na my kyk nie.

My broers was kwaad vir my,

hulle het gesê ek moet die wingerde oppas,

en daarom kon ek nie my vel mooi hou nie.”

Jy moet jou bokkies laat wei by die skaapwagters se tente

7Sy sê: “Ek is lief vir jou, jy moet vir my vertel

waar jy jou skape en bokke laat wei,

waar jy hulle laat rus op die warmste tyd van die dag.

Ek wil nie my gesig toemaak en jou soek

by jou vriende se troppe skape en bokke nie.”

8Hy sê: “Jy, mooiste van al die vroue, as jy dit nie kan uitvind nie,

dan moet jy loop op die spore van die skape en die bokke,

en jy moet jou bokkies laat wei by die skaapwagters se tente.”

Jy dra oorbelle langs jou wange

9Hy sê: “My liefste, jy is vir my mooi,

so mooi soos 'n perd

voor die farao se oorlogkar.

10Jy dra oorbelle langs jou wange

en kettinkies om jou nek.

11Ons sal vir jou oorbelle maak van goud

met silwer knoppe daarin.”

Terwyl die koning naby was

12Sy sê: “Terwyl die koning naby was,

het hy my nardus geruik.

13Die man vir wie ek lief is, is vir my

soos 'n sakkie mirre tussen my borste.

14Die man vir wie ek lief is, is vir my

soos 'n henna-tros in die wingerd

van die stad En-Gedi.”

15Hy sê: “My liefste, jy is regtig mooi,

regtig, jy is mooi, jou oë is soos duiwe.”

16Sy sê: “Man vir wie ek lief is, jy is regtig mooi,

jy is ook pragtig, en ons bed is ook mooi,

ons bed is onder die groen blare.

17Ons huis se balke is die sederbome,

die planke in ons dak is die sipresbome.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help