Miga 1 - Bybel vir almal

1Die Here het met Miga gepraat. Miga het van die stad Moreset gekom. Dit was in die tyd toe Jotam koning van Juda was. Ná Jotam was Agas koning, en ná Agas was Hiskia koning. Die Here het vir Miga gewys wat met Samaria en Jerusalem sal gebeur.

Die Here kom omdat die Israeliete sonde gedoen het

2Al die volke moet luister.

Almal wat op die aarde woon,

moet luister.

Die Here sal sê wat julle

verkeerd gedoen het.

Hy kom uit sy gewyde tempel,

3Hy kom van die plek

waar Hy woon.

Hy kom af uit die hemel

en Hy trap die offer-plekke

in die land plat.

4Wanneer Hy kom,

dan smelt die berge

en die valleie onder Hom.

Hulle verdwyn soos iets

wat smelt in vuur,

soos water wat afloop

teen 'n heuwel.

5Die Here kom omdat die Israeliete,

die nageslag van Jakob,

sonde gedoen het.

Samaria is die plek

waar die Israeliete

sonde gedoen het,

Jerusalem is die offer-plek

waar die mense

van Juda offer.

Ek sal Samaria heeltemal verwoes

6Die Here sê:

“Ek sal Samaria

heeltemal verwoes.

Mense sal wingerde plant

waar die stad was.

Ek sal Samaria se geboue afbreek.

Daar sal net 'n paar klippe oorbly.

7Die vyande sal die beelde

in Samaria stukkend slaan

en hulle sal die presente verbrand

wat die mense na die tempel

gebring het.

Dit was presente

vir tempel-prostitute,

en die vyande sal dit gebruik

om ander tempel-prostitute

te betaal.”

Miga sal hartseer wees

8Ek, Miga, sal hartseer wees en treur

wanneer die vyande Samaria verwoes,

ek sal kaalvoet loop

en my klere uittrek.

Ek sal skree soos 'n jakkals,

en kla soos 'n volstruis.

9Dit gaan baie sleg met Samaria.

Dit gaan nou ook sleg met Juda

hier in Jerusalem

waar my volk woon.

Die vyande sal die mense van tien stede in Juda vang en wegvat

10Moenie vir die mense van die stad Gat

daarvan vertel nie,

moenie daaroor huil nie.

Gaan lê in die stof in die stad Bet-Leafra.

11Kom uit julle stad,

mense van die stad Safir.

Die vyande vang julle

en vat julle weg.

Die mense van die stad Saänan

kom kaal uit hulle stad.

Die mense van die stad Bet-Esel treur

oor hulle mense wat dood is,

die vyande het hulle stad verwoes.

12Die mense van die stad Marot

het gedink dit sal goed gaan,

maar die Here het dit sleg laat gaan

met die stad Jerusalem.

13Mense van die stad Lakis,

julle moet die perde inspan

voor julle oorlogkarre.

Dit is julle wat die mense

van Jerusalem en Israel

laat sonde doen het.

14Julle moet die mense

van die stad Moreset-Gat groet,

hulle moet ook gaan.

Die mense wat in die stad Aksib woon,

sal nie die konings van Israel

kan help nie.

15Mense van die stad Maresa,

die vyande sal na julle toe ook kom.

Hulle sal tot by die stad

Adullam kom,

en niemand sal die Israeliete

respekteer nie.

16Julle moet julle hare afskeer.

Skeer julle koppe so kaal

soos 'n aasvoël se kop,

want die vyande sal die mense

van al hierdie stede

vang en wegvat.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help