Numeri 24 - Bybel vir almal

1Bileam het nou geweet dat die Here wil hê hy moet die Israeliete seën, en hy het nie soos voorheen gesoek na 'n teken nie. Hy het na die woestyn gekyk

2en toe hy sien dat elke stam van Israel op sy eie plek langs die ander stamme woon, het die Gees van God in hom gekom

3en hy het begin praat. Hy het gesê:

“Dit is Bileam seun van Beor

wat praat,

God wys vir my dinge.

4Ek is 'n man wat hoor

wat God vir my sê,

en wat sien wat die Almagtige

vir my wys.

Wanneer ek gaan lê en ek bid,

dan wys God vir my dinge.

5Israeliete, julle tente

is baie mooi,

julle woonplekke is mooi.

6Hulle lyk soos lang valleie,

soos tuine langs 'n rivier,

soos aalwyne wat die Here

geplant het,

soos sederbome langs die water.

7Die Israeliete se waterkruike

loop oor,

hulle saai koring by baie water.

Hulle koning is sterker

as koning Agag,

en hulle land word altyd groter.

8God het hulle uit Egipte gebring,

Hy is vir hulle soos die horings

van 'n oer-os.

Hulle sal die volke oorwin

wat hulle vyande is,

hulle sal die vyande

se bene breek

en hulle sal die vyande

met pyl en boog skiet.

9Die Israeliete is soos 'n leeu.

Wie sal 'n leeu opjaag

as hy gaan lê het?

Israeliete, die Here seën

die mense wat vir julle seën,

en Hy vervloek die mense

wat vir julle vervloek.”

10Balak was baie kwaad vir Bileam. Hy het sy hande teen mekaar geslaan en hy het vir Bileam gesê: “Ek het jou laat roep om my vyande te vervloek, maar jy het hulle nou drie maal geseën.

11Nou moet jy loop, terug na jou plek. Ek het gesê ek sal jou baie ryk maak, maar die Here het dit gekeer, jy sal nie ryk word nie.”

12Bileam het vir Balak gesê: “Jy het jou boodskappers na my toe gestuur. Ek het vir hulle gesê:

13‘Ek moet altyd doen wat die Here vir my sê, ook as Balak vir my sy huis vol silwer en goud gee. Ek kan niks self besluit nie, nie goed of sleg nie. Ek sal net sê wat die Here vir my sê.’

14Nou gaan ek terug na my mense toe. Maar ek sal nou vir jou sê wat hierdie volk eendag aan jou volk sal doen.”

Bileam praat die vierde maal

15Bileam het toe begin praat en gesê:

“Dit is Bileam seun van Beor

wat praat,

God wys vir my dinge.

16Ek is 'n man wat gehoor het

wat God vir my sê,

wat weet wat die Hoogste God

vir my leer,

wat sien wat die Almagtige

vir my wys.

Wanneer ek gaan lê en ek bid,

dan wys God vir my dinge.

17Ek sien iemand kom,

maar nie nou nie,

Ek sien hom, maar hy is nie

naby nie.

Daar sal 'n ster uit die volk

Israel kom,

'n koning sal uit

die Israeliete kom,

en hy sal trap op die grense

van die land Moab,

hy sal die nageslag

van Set verwoes.

18Die Israeliete sal die land Edom

vir hulleself vat,

die land Seïr sal behoort

aan die vyande van die land.

Maar Israel sal 'n sterk

volk wees.

19Iemand van die nageslag

van Jakob sal regeer,

en hy sal die mense doodmaak

wat wegvlug uit die stad Ir.”

20Toe kyk Bileam na die Amalekiete, en hy begin weer praat en hy sê:

“Die Amalekiete was

die belangrikste volk,

maar eendag sal hulle

vir altyd verdwyn.”

21Toe kyk hy na die Keniete, en hy begin praat en hy sê:

“Julle het 'n plek waar julle

altyd woon,

julle woon op 'n rots,

22maar wanneer die Assiriërs

julle vang en wegvat,

dan sal hulle die woonplek

van Kain verbrand.”

23Bileam het weer begin praat. Hy het gesê:

“Wie sal kan lewe wanneer God

al hierdie dinge laat gebeur?

Niemand.

Dit sal sleg gaan met julle.

24Daar sal skepe

van die Kittiërs kom,

en hulle sal die Assiriërs

en die Hebreërs oorwin,

maar die skepe sal self sink

vir altyd.”

25Daarna het Bileam gereedgemaak en hy het teruggegaan na sy plek, en Balak het ook huis toe gegaan.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help