Sefanja 3 - Bybel vir almal

Dit sal sleg gaan met Jerusalem

1Dit sal sleg gaan met Jerusalem.

Die mense wat daar woon,

is opstandig teen die Here.

Hulle is sleg, hulle verdruk mekaar.

2Hulle luister nie

wanneer die Here

met hulle praat nie,

hulle is ongehoorsaam.

Hulle dink die Here

kan hulle nie help nie

en hulle dien Hom nie.

3Die amptenare in die stad

is soos leeus wat brul.

Die leiers is soos wolwe

wat in die nag kos soek

en niks laat oorbly

vir die volgende oggend nie.

4Die profete dink

net aan hulleself,

jy kan hulle nie glo nie.

Die priesters ontwy

die gewyde dinge.

Hulle is nie gehoorsaam

aan die wette van die Here nie.

5In hierdie stad is dit die Here

wat die Regverdige is,

Hy doen niks verkeerd nie.

Elke oggend wanneer dit lig word,

sê Hy wie is reg

en wie is verkeerd.

Maar die mense wat verkeerd doen,

word nie skaam daaroor nie.

Hulle het aangehou om verkeerd te doen

6Die Here sê:

“Ek het die mense van baie volke

laat sterf.

Ek het die sterk mure

om hulle stede afgebreek.

Daar is niemand wat

in hulle strate loop nie,

niemand loop daar verby nie.

Ek het die huise

in hulle stede afgebreek,

daar woon niemand nie.

7Ek het vir die mense

van Jerusalem gesê:

‘Julle moet My eer,

julle moet luister

wanneer Ek met julle praat.’

As hulle geluister het,

dan sou Ek die stad nie verwoes nie

en hulle nie straf nie.

Maar hulle het aangehou

om verkeerd te doen.

Alles wat hulle gedoen het,

was verkeerd.

8Daarom moet julle wag vir die dag

wanneer Ek kom om julle te straf.

Ek het besluit om die volke

bymekaar te maak.

Ek wil hê hulle moet voel

hoe kwaad Ek is.

Ek sal al die mense op die aarde

laat brand in die vuur,

want Ek is baie kwaad.”

'n Nederige en eenvoudige volk sal in Jerusalem oorbly

9“Maar op daardie dag

sal Ek die volke verander.

Hulle almal sal net vir My aanbid,

hulle sal net vir My dien.

10Die mense wat anderkant

die riviere van Kus woon,

sal vir My presente bring.

Hulle is mense van my volk

wat My eer,

maar Ek het hulle

uit hulle land laat gaan,

en hulle het in die land Kus

gaan woon.

11Ek sal die mense

tussen julle wegvat

wat dink hulle is baie belangrik.

Daar sal nie meer hoogmoedige mense

op my gewyde berg wees nie.

Dan sal julle nie meer

skaam wees oor alles

wat julle teen My gedoen het nie.

12'n Nederige en eenvoudige volk

sal in Jerusalem oorbly

en hulle sal veilig voel by My.

13Die Israeliete wat nog lewe,

sal nie verkeerd doen nie

en hulle sal nie lieg nie.

Dit sal goed gaan met hulle,

soos met skape en bokke

wat genoeg eet

en dan gaan lê en rus,

en niemand maak hulle skrik nie.”

Die Here het besluit om julle nie te straf nie

14Israeliete, julle wat

in Jerusalem woon,

julle moet juig en bly wees,

15want die Here het besluit

om julle nie te straf nie.

Hy het julle vyande gestop

en laat teruggaan.

Die Koning van Israel,

die Here, is by julle.

Julle moenie meer bang wees nie.

16Daardie dag sal hulle

vir die mense in Jerusalem sê:

“Julle moenie bang wees nie,

mense van Jerusalem,

julle moenie moedeloos wees nie.

17Julle God die Here is by julle.

Hy is die Groot Soldaat

wat julle sal red.

Hy is bly en Hy juig oor julle.

Hy is lief vir julle

en Hy sing oor julle.”

Nou sal al die mense op die aarde my volk eer

18Die Here sê:

“Ek sal julle mense

wat in ander lande is,

bymekaarmaak.

Hulle kan nie in die ander lande

die feeste van die Here vier nie.

Hulle kry swaar

omdat julle verkeerd gedoen het.

19Ek sal nou almal straf

wat vir julle verdruk het.

Ek sal die lam mense help,

ook die mense wat moes vlug

en op ander plekke

moes gaan woon.

Die ander mense het gemaak

of my volk niks beteken nie,

maar nou sal al die mense

op die aarde my volk respekteer.

20Op daardie dag

sal Ek hulle bymekaarmaak

en terugbring.

Al die volke op die aarde

sal hulle respekteer.

Hulle sal self sien,

dit sal goed gaan met hulle.”

Dit sê die Here.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help