Psalms 102 - Bybel vir almal

Ons kinders sal veilig woon

1'n Gebed vir iemand wat swaarkry, wanneer hy swak voel en by die Here wil kla.

2Here, U moet na my gebed luister,

U moet hoor hoe ek roep en vra

dat U my moet help.

3Dit gaan sleg met my,

U moenie maak of U dit nie sien nie.

U moet luister wanneer ek tot U bid,

U moet my gou antwoord.

4Want my dae gaan verby soos rook,

my liggaam brand soos vuur.

5Ek voel soos gras wat droog geword het

nadat iemand dit plat getrap het,

want ek is nie meer lus om te eet nie.

6Ek hou aan om te kla van die pyn,

ek is baie maer, net vel en been.

7Ek is soos 'n pelikaan in die woestyn,

ek het geword soos 'n uil tussen hope klippe.

8Ek kan nie slaap nie,

ek is soos 'n voël wat alleen op 'n dak sit.

9My vyande spot my die hele dag,

die mense wat my beledig, sê my naam

wanneer hulle ander mense wil vervloek,

10want ek eet as, dit is my kos,

en alles wat ek drink, is vol van my trane.

11Dit is omdat U so kwaad is vir my.

U het my opgetel en weggegooi.

12My lewe is amper verby,

dit is soos wanneer die skaduwee in die aand

lank word en verdwyn.

Ek is soos gras wat droog geword het.

13Maar, Here, U is altyd Koning,

elke geslag ken u Naam.

14U sal kom en jammer wees vir Sion,

want die tyd het gekom

dat U goed moet wees vir Sion.

Ja, dit is nou die tyd.

15Sion is nou net hope klippe en stof,

maar ons, u dienaars, is lief en jammer vir die stad.

16Die volke sal bang word

wanneer hulle die Naam van die Here hoor.

Al die konings op die aarde sal bang word

wanneer hulle sien dat U Koning is.

17Ja, die Here bou weer die mure van Sion,

Hy wys vir almal dat Hy Koning is.

18Hy hoor die gebede van die mense wat niks het nie,

hulle gebede is vir Hom belangrik.

19Julle moet dit opskryf

sodat die volgende geslag dit kan lees,

sodat die kinders wat later gebore sal word,

die Here kan prys.

20Hulle sal Hom prys,

want Hy het uit die heilige hemel daarbo

afgekyk na die aarde

21en Hy het gehoor dat die gevangenes kla en sug.

Hy het oopgemaak en die mense gered

wat naby die dood was.

22Die kinders wat later gebore sal word,

sal in Sion die Naam van die Here sê,

hulle sal Hom prys in Jerusalem

23wanneer die volke, die mense uit ander lande,

bymekaarkom om die Here te dien.

24Die Here het my swak laat word

toe ek jonk was,

Hy het my lewe kort gemaak.

25Ek sê: My God, U moenie my nou wegneem nie,

ek het nog nie klaar gelewe nie.

U self lewe vir altyd en altyd.

26Lank gelede het U die aarde vas laat staan,

en U het self die hemel gemaak.

27Die aarde en die hemel sal verdwyn,

maar U sal altyd daar wees.

Hulle sal word soos ou klere,

hulle sal verdwyn soos klere

wat 'n mens uittrek en weggooi.

28Maar U bly altyd dieselfde,

U lewe vir altyd.

29Ons kinders sal veilig woon,

ons nageslag sal 'n plek hê by U.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help