Prediker 12 - Bybel vir almal

1Jy moet dink aan God wat jou gemaak het, jy moet nóú aan Hom dink terwyl jy jonk is, voordat daar slegte dae kom en die jare kom wanneer jy sal sê: “Ek hou nie van hierdie tyd nie.”

2Jy moet aan God dink voordat jy die son en die maan

en die sterre nie meer goed kan sien nie,

en voordat die lug vir jou altyd donker lyk

nadat dit gereën het.

3Want daar sal dae kom wanneer jou hande begin bewe

en jou bene krom word

en jou tande nie meer die kos fyn kan kou nie

omdat jy te min tande het,

dae wanneer jou oë dof begin word,

4en jy nie meer praat nie omdat jy nie goed kan hoor nie,

en jy opstaan wanneer die voëltjies begin sing,

maar jy kan hulle nie meer hoor nie.

5Daar sal dae kom wanneer jy bang is vir hoë plekke

en vir dinge wat in jou pad is.

Daar sal 'n tyd kom wanneer jou hare wit is

soos die blomme van 'n amandelboom,

'n tyd wanneer jy sukkel om te loop,

en daar niks is wat help om jou lus te maak vir seks nie,

'n tyd wanneer jy sterf,

en wanneer die mense wat oor jou moet rou,

op die strate bymekaarkom.

6Jy moet aan God dink vóór daardie dag

wanneer die silwer tou breek

waarmee jy water uit die put opgetrek het

en die goue bak stukkend breek waarin jy die water gegooi het,

vóór daardie dag wanneer die waterkruik by die fontein

stukkend is,

en ook die wen-as bokant die watergat.

7Dit is die tyd wanneer jy sterf en jou stof teruggaan na die aarde, en wanneer jou asem teruggaan na God wat die asem gegee het.

8Die Prediker sê: Niks is soos dit moet wees nie, niks.

Die dinge wat wyse mense sê

9Die Prediker was 'n wyse mens en hy het ook vir die volk baie dinge geleer. Hy het baie spreuke gemaak en hy het die spreuke getoets en gereedgemaak.

10Die Prediker het probeer om woorde te gebruik waarvan mense sal hou, en hy het die dinge presies reg neergeskryf, dinge wat altyd waar sal wees.

11Die dinge wat wyse mense sê, is soos skerp stokke, dit is soos spykers wat hulle diep inslaan. Dit is een Herder wat vir ons die wyse mense gee wat spreuke bymekaarmaak.

God sal alles oordeel wat jy doen

12Ek het al hierdie dinge vir jou gesê, maar ek wil ook nog dít sê: My seun, jy moet versigtig wees, 'n mens maak nooit klaar wanneer jy baie boeke wil skryf nie, en as jy baie hard werk om die boeke te skryf, dan sal jy baie moeg word.

13Wanneer jy klaar na alles geluister het, dan moet jy dít onthou: Jy moet vir God respekteer en jy moet Hom dien. Jy moet doen wat Hy sê, want Hy sê dit vir elke mens.

14Ja, God sal alles oordeel wat jy doen, Hy sal ook die dinge oordeel waarvan ander mense nie weet nie, die goeie dinge én die slegte dinge.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help