Job 36 - Bybel vir almal

Elihu praat die vierde maal

1Elihu het nóg gepraat. Hy het gesê:

2“Job, jy moet nog 'n bietjie wag,

ek wil nóg met jou praat,

ek wil nóg dinge sê oor God.

3Ek sal vir jou wys hoe baie ek weet,

ek wil wys dat God regverdig is,

God wat my gemaak het.

4Jy kan glo wat ek sê,

ek praat net die waarheid.

5Jy moet onthou, God is sterk,

Hy dink nie dat party mense

minder belangrik is nie.

Hy het baie krag en wysheid.

6Hy laat nie die mense aanhou lewe

wat verkeerd doen nie.

Hy doen reg aan die mense

wat hulleself nie kan help nie.

7Hy beskerm altyd die mense wat reg doen,

Hy laat hulle vir altyd soos konings

op trone sit,

hulle word belangrike mense.

8As hulle gevangenes in kettings word

en baie swaar kry,

9dan is dit omdat God vir hulle laat voel

dat hulle verkeerd gedoen het

toe hulle hoogmoedig geword het.

10Hy maak hulle gehoorsaam

aan alles wat Hy vir hulle wil leer,

Hy sê vir hulle dat hulle moet ophou

om verkeerde dinge te doen.

11As hulle luister en Hom dien,

dan gaan dit goed,

hulle is gelukkig,

hulle hele lewe lank.

12As hulle nie luister nie, dan sterf hulle,

hulle sterf omdat hulle nie wou weet

wat hulle moet doen nie.

13God word nog meer kwaad vir mense

wat nie vir Hom wil dien nie,

vir mense wat nie tot Hom bid

wanneer hulle gevangenes word nie.

14Hierdie mense sterf gou,

want hulle doen slegte dinge.

15God laat mense swaarkry

sodat Hy hulle kan red.

Hy laat dit sleg gaan met hulle

sodat hulle gehoorsaam kan word.

16Job, God sal jou help,

jy sal nie meer swaarkry nie,

dit sal weer baie goed gaan met jou,

daar sal weer lekker kos op jou tafel wees.

17Maar God straf jou swaar soos Hy

mense moet straf wat verkeerd doen,

en jy moet tevrede wees wanneer Hy

jou straf.

18Jy is kwaad, maar jy moenie

daarom kies om verkeerd te doen nie.

Jy moenie verkeerde dinge doen

wanneer jy omkoopgeld kry nie.

19Dit sal nie help om te skree

wanneer dit sleg gaan met jou

en jy vra dat iemand jou moet help nie.

Dit sal nie help as jy sterk is nie.

20Jy moenie verlang na die donker,

na die tyd wanneer God mense

wegneem nie.

21Jy moet oppas en jy moenie weer

sonde doen nie,

want jy het gekies om sonde te doen,

dit was vir jou beter as om swaar te kry.

22Onthou, God is sterk, Hy regeer.

Niemand kan vir mense leer

soos Hy dit doen nie.

23Niemand kan vir Hom sê

wat Hy moet doen nie,

niemand kan vir Hom sê

dat Hy verkeerd doen nie.

24Jy moenie vergeet om die dinge

wat Hy doen, te prys nie.

Mense het altyd gesing

oor die dinge wat Hy doen.

25Al die mense sien wat Hy doen,

maar hulle sien dit nie naby hulle nie.

26Onthou, God is groot,

ons kan nie weet hoe groot Hy is nie,

ons kan nie weet hoe oud Hy is nie.

27Hy trek die druppels water op

en Hy verander die druppels in reën.

28Die wolke laat dit reën,

die reën val op al die baie mense.

29Niemand verstaan hoe die wolke

bymekaarkom, en hoe die donderweer

raas en dreun daar waar God woon nie.

30God laat die weerlig oral slaan,

maar Hy laat die see donker bly.

31Hy regeer, Hy gee die reën,

en almal het kos om te eet,

meer as genoeg kos.

32Hy vat die weerlig in sy hand

en Hy stuur dit waar dit moet wees.

33Die beeste hoor ook hoe

die donderweer raas en dreun,

en hulle wys dat daar 'n storm kom.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help