Hosea 6 - Bybel vir almal

Kom ons gaan terug na die Here toe

1Die Here het gesê:

“Die mense van Israel

en Juda sal sê:

‘Kom ons gaan terug na die Here toe.

Dit is Hý wat ons stukkend

geskeur het,

maar Hy sal ons

weer gesond maak.

Dit is Hy wat ons geslaan het,

maar Hy sal

ons seerplekke toedraai.

2Hy sal ons gesond maak

ná twee dae,

Hy sal ons laat opstaan

op die derde dag

sodat ons kan lewe

soos Hy wil hê.

3Ons wil naby die Here wees,

ons is haastig om naby

Hom te wees.

Hy sal na ons toe kom,

dit is seker,

so seker soos dit lig word

in die oggend.

Hy sal kom, soos die reën

wat in die lente val

en die grond natmaak.’ ”

Julle liefde is soos 'n wolk

4Maar die Here sê ook:

“Wat moet Ek met julle doen,

mense van Israel en Juda?

Julle liefde is soos 'n wolk

of soos dou.

Dit is vroeg in die oggend daar,

maar dit verdwyn gou.

5Dit is hoekom Ek

die profete gestuur het

om hard te praat met julle

en vir julle te sê dat julle sal sterf.

Ek wou julle straf, so seker

soos die son elke dag opkom.

6Ek wou julle straf,

want offers en brand-offers

is nie vir My belangrik nie.

Ek wil hê julle moet lief wees vir My

en julle moet naby My wees.

7Julle het die verbond

met My gebreek

soos julle gedoen het

in die stad Adam.

Julle was toe ontrou aan My.

8Al die mense in die land Gilead

het verkeerde dinge gedoen,

hulle was skelm

en hulle het mense vermoor.

9Die klomp priesters

het soos diewe gelê en wag

langs die pad na die stad Sigem

en hulle het mense vermoor.

Hulle het verkeerde dinge gedoen.

10Die dinge wat Ek in die volk Israel sien,

is baie verkeerd.

Die mense van Israel

is ontrou aan My,

hulle het hulleself

onrein gemaak.”

Ek weet alles wat hulle gedoen het

11Die Here het gesê:

“Wanneer Ek dit weer

goed laat gaan met my volk,

dan sal Ek dit ook doen

vir die mense van Juda.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help