Job 20 - Bybel vir almal

Sofar praat weer met Job

1Sofar van die land Naäma het weer gepraat. Hy het gesê:

2“Job, luister na my, ek dink ek moet praat,

ek voel dat ek móét praat.

3Ek hoor dat jy vir my wil leer

maar jy beledig vir my.

Ek verstaan nie wat jy dink

wanneer jy my nie antwoord nie.

4Jy weet dit goed,

dit was lank gelede so,

dit was so vandat God

mense op die aarde gesit het:

5Wanneer mense juig wat verkeerd doen,

dan kan hulle dit nie lank doen nie.

Iemand wat nie vir God wil ken nie,

kan net 'n kort tydjie bly wees.

6So iemand word miskien baie belangrik,

hy is hoogmoedig en hy loop met sy neus

in die lug,

7maar hy sal so vinnig verdwyn

soos sy mis.

Mense wat hom voorheen gesien het,

sal vra: ‘Waar is hy?’

8Hy sal weggaan soos 'n droom,

en jy sal hom nie kry nie.

Mense sal hom vergeet,

soos hulle vergeet

wat hulle gesien het

toe hulle gedroom het.

9Niemand sal hom weer sien nie,

hy sal nooit weer wees waar hy was nie.

10Hy sal self die goed moet teruggee

wat hy bymekaargemaak het,

en sy kinders sal rente moet betaal

op alles wat hy gevat het van arm mense.

11Hy sal nog sterk en gesond wees,

maar hy sal in sy graf moet gaan lê.

12Dit was vir hom lekker om verkeerd te doen,

hy het dit geniet soos lekker kos

13wat hy in sy mond hou en stadig insluk.

14Maar daardie kos sal verander in sy maag,

dit sal so bitter word soos 'n slang se gal.

15Hy het baie goed bymekaargemaak,

maar hy sal dit verloor soos kos

wat 'n mens opbring wanneer hy naar is.

God sal dit met hom laat gebeur.

16Hy sal die gif van 'n slang moet insuig,

'n adder se tong sal hom laat sterf.

17Hy sal niks kan geniet nie,

ook nie as daar riviere vol heuning

en dikmelk is nie.

18Hy sal alles moet teruggee

wat hy gekry het toe hy gewerk het,

hy sal dit nie kan gebruik nie.

Hy sal koop en verkoop en ryk word,

maar hy sal dit nie geniet nie.

19Want hy het op arm mense getrap

en hy het hulle nie gehelp nie.

Hy het huise vir homself gevat

wat ander mense gebou het.

20Hy kry nooit genoeg nie,

hy wil altyd meer hê.

21Wanneer hy eet, dan bly daar niks oor nie,

en dit is hoekom dit nie

sal aanhou goed gaan met hom nie.

22Hy het baie goed,

meer as wat hy nodig het,

maar dit sal skielik sleg gaan

met hom,

hy sal baie swaar kry.

23Hy sal iets anders moet eet

en hy sal vol word daarvan.

God sal kwaad word en God sal hom straf,

dít sal die kos wees

wat daardie mens moet eet.

Die slegte dinge sal op hom val soos reën.

24Wanneer hy vlug vir 'n vyand met 'n yster-swaard,

dan sal 'n vyand met 'n brons-boog hom raakskiet.

25Wanneer hy die pyl uittrek uit sy rug,

die blink punt van die pyl wat deur sy gal gegaan het,

dan sal hy bang wees, want hy sal weet dat hy sterf.

26Die donker wag vir hom en vir alles wat hy het,

'n vuur sal brand, niemand het dit aangesteek nie,

en alles wat hy het, sal verbrand.

27Die hemel en die aarde

sal getuig teen hom.

28Wanneer God kwaad word en Hy wil

die persoon straf,

dan verloor daardie persoon alles.

29Dit is wat God laat gebeur

met die mens wat verkeerd doen.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help