Psalms 56 - Bybel vir almal

Ek weet God sal my help

1Vir die leier van die koor: Dieselfde musiek soos vir die lied “Die duif in die hoë bome.” Van Dawid. 'n Lied, toe die Filistyne hom gevang het in die stad Gat.

2O God, wees genadig vir my,

want daar is mense wat my jaag,

hulle hou aan om oorlog te maak teen my

en om my te laat swaarkry.

3My vyande hou nie op om my te jaag nie,

want daar is baie mense

wat oorlog wil maak teen my.

Hoogste God,

4wanneer ek bang word,

dan weet ek U sal my help.

5Ek weet God sal my help.

Hy het dit belowe, en ek prys Hom.

Ek weet God sal my help, ek is nie bang nie.

Mense kan niks aan my doen nie.

6My vyande hou aan om te sê

dat ek verkeerde dinge gesê het,

maar ek het nie daardie dinge gesê nie.

Hulle maak altyd planne

om dit sleg te laat gaan met my.

7Hulle wil my aanval, hulle kruip weg

en hulle kyk na alles wat ek doen.

Hulle hoop hulle kan my laat sterf.

8O God, U moet hulle nie vry laat wegkom nie,

want hulle het sonde gedoen,

U moet kwaad word en U moet hierdie mense straf.

9U weet hoe swaar ek kry.

As U my trane in u velsak sit,

dan sal U sien hoe baie hulle is.

U moet dit in u boek skryf.

10Wanneer ek roep en vra dat U my moet help,

dan sal my vyande omdraai en vlug.

Ek weet dit, want God help my teen hulle.

11Ek weet, God het dit belowe, en ek prys Hom,

ek weet, die Here het dit belowe, en ek prys Hom.

12Ek weet dat God my sal help, ek is nie bang nie,

mense kan niks sleg aan my doen nie.

13O God, ek moet nou doen wat ek belowe het,

ek sal dank-offers bring vir U,

14want U het my gered van die dood,

U het gekeer sodat ek nie val nie.

Ek kon aanhou lewe naby God,

ek kon lewe in sy lig, dit is die lig wat my laat lewe.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help