Psalms 40 - Bybel vir almal

U moenie ophou om jammer te wees vir my nie

1Vir die leier van die koor: Van Dawid. 'n Psalm.

2Ek het aangehou wag dat die Here my moet help,

en Hy het na my toe gebuig en gehoor hoe ek kla en sug.

3En toe het Hy my opgetrek uit die diep gat

vol slym en modder,

ek het amper daar gesterf.

Hy het my op 'n rots neergesit,

my voete kon daar vas staan.

4Hy het vir my 'n nuwe lied laat sing,

'n lied om ons God te prys.

Baie mense het gesien wat Hy gedoen het,

en hulle het Hom gerespekteer en gedien,

hulle het geglo dat die Here hulle sal help.

5Dit gaan goed met 'n mens wat glo

dat die Here hom sal help,

'n mens wat nie vra

dat afgode hom moet help nie,

dinge wat nie gode is nie.

6U, my God die Here,

U het baie wonderwerke gedoen

en U het baie dinge oor ons besluit.

Niemand is soos U nie.

As ek wil vertel wat U gedoen het

en daaroor wil praat,

dan is alles te veel om te tel.

7U wil nie offers en presente hê nie,

U wil hê dat ek moet luister na wat U sê.

U het nie gevra dat ons brand-offers

en sonde-offers moet bring nie.

8Daarom het ek gesê: “Hier is ek!

Die boek met u wette sê dat ek dit moet doen.”

9My God, ek hou daarvan om te doen wat U wil hê.

Ek dink altyd aan wat in u wette geskryf is.

10U het my gered,

en ek het hierdie goeie nuus in die groot vergadering vertel.

U moet luister, ek het nie stilgebly nie.

Here, U weet dit self.

11Ek het nie stilgebly nie, ek het vertel dat U red,

ek het gesê dat U doen wat U sê, U help.

Ek het vir die groot volksvergadering gesê

dat U doen wat U belowe het

en altyd dieselfde is.

Ek het nie stilgebly nie.

12U, Here, U moenie ophou

om jammer te wees vir my nie,

U moet altyd doen wat U belowe het,

U moet dieselfde bly,

dan sal ek veilig wees.

13Baie slegte dinge het met my gebeur,

dit is te veel om te tel.

My sondes is meer as die hare op my kop

en U straf my nou daaroor.

Ek kan nie meer sien nie,

ek kan nie verder gaan nie.

14 Here, U moet my asseblief red!

Here, U moet my gou kom help!

15Die mense wat wil hê dat ek moet sterf,

moenie wen nie, hulle moet verloor.

Die mense wat wil hê

dat dit sleg moet gaan met my,

moet weggaan,

hulle moet weet dat hulle niks sal regkry nie.

16Die mense wat vir my spot en hulle tong uitsteek,

moet groot skrik omdat U hulle so verneder.

17Almal wat vir U wil kom dien,

moet vrolik en bly wees,

die mense wat wil hê dat U hulle moet help,

moet aanhou sê: “Die Here is groot!”

18En ek?

Ek kan myself nie help nie,

ek het niks,

dit is my Here wat vir my sorg.

Dit is U wat my sal help en my vry sal maak.

My God, U moenie wag nie, U moet gou kom!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help