Amos 6 - Bybel vir almal

Dit sal sleg gaan met die leiers van die Israeliete

1Dit sal sleg gaan

met die belangrike mense

van die belangrikste volk,

die Israeliete.

Hulle het gevra hulle leiers

moet hulle help,

die leiers wat so lekker woon

in Jerusalem,

en die mense wat dink

hulle is veilig op Samaria-berg.

2Gaan kyk wat het gebeur

met die stad Kalne

en met die groot stad Hamat

en met Gat, die stad van die Filistyne.

Hulle was nie sterker as julle nie,

Israel en Juda.

Hulle land is kleiner as julle land.

3Julle dink daar is nog baie tyd,

julle dink julle sal nie nou

swaarkry nie.

Julle hou aan om julle mense

te laat swaarkry.

4Julle lê op beddens

wat julle mooi gemaak het

met ivoor,

julle sit lekker op julle rusbanke.

Julle eet lammers en vet kalwers.

5Julle maak musiek op 'n harp,

julle maak nuwe musiek

om te speel, soos Dawid.

6Julle drink wyn uit die bakke

waarin julle offers bring

en julle smeer die beste olyf-olie

aan julle.

Maar julle is nie bekommerd

dat dit slegter en slegter gaan

met die Israeliete nie.

7Daarom sal julle vyande julle vang.

Hulle sal die leiers eerste vang

en wegvat na 'n ander land.

Die tyd is verby, julle sal nie meer

lê en feesvier nie.

8Die Here, die God

wat oor alles regeer,

het belowe,

en Hy is self die getuie.

Hy het gesê:

“Die Israeliete is baie hoogmoedig.

Ek hou niks daarvan nie,

Ek haat hulle mooi huise.

Ek sal die stad en alles

wat daarin is

vir hulle vyande gee.

9As daar in een huis

tien mans oorgebly het,

dan sal hulle ook almal sterf.

10Iemand van daardie familie sal kom

en hy sal die dooie mense

uit die huis begin dra

om hulle te begrawe.

As daar agter in die huis

nog iemand is wat lewe,

dan sal die man van die familie

vir hom vra:

‘Is daar nog iemand by jou?’

en hy sal sê: ‘Nee, niemand nie.’

Dan sal die man

van die familie antwoord:

‘Ons moenie praat nie,

ons moenie die Here se Naam

noem nie.’ ”

11Wanneer die Here sê

hulle moet dit doen,

dan sal die vyande al die huise afbreek,

die groot huise en die klein huise.

12'n Mens jaag nie met perde oor rotse nie

en jy ploeg nie

met beeste op rotse nie.

Maar julle laat

onskuldige mense swaarkry.

Julle laat dit sleg gaan

met goeie mense.

13Julle spog dat julle die twee stede

Lo-Dabar en Karnajim oorwin het.

Julle sê julle het dit gedoen

omdat julle self so sterk is.

14Maar die Here, die God

wat oor alles regeer, sê:

“Israeliete, Ek sal 'n volk bring

om oorlog te maak teen julle,

en daardie volk

sal julle laat swaarkry

oral in die land,

van Lebo-Hamat tot by

die klein riviertjie in die woestyn.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help