Spreuke 7 - Bybel vir almal

Wysheid sal jou beskerm teen die slegte vrou

1My seun, jy moet onthou

wat ek vir jou sê,

jy moet goed onthou

wat ek sê jy moet doen.

2Jy moet dit doen sodat jy kan aanhou lewe.

Die dinge wat ek vir jou leer,

moet vir jou baie belangrik wees.

3Jy moenie dit vergeet nie,

jy moet dit altyd onthou.

4 Wysheid moet vir jou wees soos jou suster,

verstand moet wees soos jou goeie vriend.

5Dan sal dit jou beskerm teen die slegte vrou,

die vrou wat nie jou vrou is nie

en wat skelm dinge sê.

6Want ek het uitgekyk by my huis se venster,

7en toe sien ek 'n jongman

wat baie onverstandig is,

hy was tussen ander jongmense

wat baie min weet.

8Hy het in die straat verbygeloop

naby die hoek van die vrou se huis

en hy het na haar huis gegaan.

9Dit was al laat, dit het donker geword,

dit was nag.

10Daar het 'n vrou na die jongman toe gekom.

Haar klere was soos 'n prostituut se klere

en sy was slim en skelm.

11Sy het hard gepraat

en sy was nie skaam nie,

sy wou nie in haar huis bly nie.

12Sy het heen en weer geloop in die straat

en op die oop plekke,

sy het op elke straathoek gestaan en wag.

13Toe die jongman by haar verbyloop,

gryp sy hom en sy soen hom.

Sy het reguit in sy oë gekyk

en sy het vir hom gesê:

14“Ek het baie vleis by die huis,

want ek het vandag die offers gebring

wat ek belowe het.

15Daarom het ek uitgekom na jou toe,

ek het jou gesoek en ek het jou gekry.

16Ek het lakens oor my bed gegooi,

lakens van bont Egiptiese linne.

17Ek het mirre, aalwyn en kaneel

op my lakens gegooi.

18Kom ons drink die hele nag van die liefde,

kom ons geniet die liefde.

19Ons kan dit doen,

want my man is nie by die huis nie,

hy het ver weg gaan reis.

20Hy het 'n beursie vol geld saamgeneem

en hy sal later terugkom,

wanneer dit volmaan is.”

21So het sy die jongman

verlei met haar slim woorde.

Hy het geluister na haar mooi woorde

en hy het gedoen wat sy sê.

22Die jongman het saam met haar geloop,

hy was soos 'n bees wat na die slagplek gaan,

soos 'n bok wat in 'n vangstrik getrap het.

23En toe het 'n pyl deur sy lyf gegaan.

Hy het gesterf voordat hy dit besef,

hy was soos 'n voël

wat reguit in 'n vangnet vlieg.

24Daarom, my seun, jy moet luister na my,

jy moet doen wat ek vir jou sê.

25Jy moenie saam met so 'n vrou gaan nie,

jy moenie doen wat sy wil hê nie,

26want sy het baie mans laat sterf,

sy het baie mans doodgemaak.

27In haar huis is jy op pad na die doderyk,

daar gaan jy af na die plek van die mense

wat dood is.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help