Hosea 14 - Bybel vir almal

1Die mense van die stad Samaria

moet tevrede wees

wanneer God hulle straf,

want hulle wou nie luister

na hulle God nie.

Die vyande sal hulle doodmaak,

die vyande sal hulle babatjies doodslaan

en hulle sal die swanger vroue oopkap.

Ek sal hulle gesond maak

2Mense van Israel,

julle moet terugkom

na julle God die Here toe,

want julle kry swaar.

Dit is omdat julle

sonde gedoen het.

3Julle moet terugkom

na die Here toe,

julle moet vir Hom sê:

“Vergewe asseblief ons sonde

en luister na wat ons vir U wil sê.

Hierdie woorde is ons offer.

4Die koning van Assirië

sal ons nie help nie,

en ons wil nie weer

oorlog maak nie.

Ons sal nooit weer sê 'n beeld

wat ons self gemaak het,

is ons god nie.

Ons is soos weeskinders,

en ons weet dat U

goed sal wees vir ons.”

5Die Here sê:

“Ek sal hulle gesond maak

sodat hulle nie weer

sal weggaan van My nie.

Ek sal baie lief wees vir hulle,

Ek is nie meer kwaad vir hulle nie.

6Ek sal vir die Israeliete

so goed wees

soos die dou vir die veld.

Hulle sal so mooi groei

soos blomme,

en hulle sal diep wortels hê

soos die bome

op die Libanon-berg.

7Hulle jong takkies sal groei

en hulle sal so mooi word

soos 'n olyfboom,

en hulle sal so lekker ruik

soos die bome

op die Libanon-berg.

8Die mense sal weer woon

in die skaduwee

van die Libanon-berg.

Hulle sal groei soos koring,

hulle sal druiwe dra

soos 'n wingerdstok,

en hulle wyn sal so goed wees

soos die wyn

van die Libanon-berg.

9Mense van Efraim,

Ek wil nie meer kyk

na die beelde

van julle afgode nie.

Ek sal luister na julle gebed

en Ek sal vir julle sorg.

Ek is soos 'n sipresboom

wat altyd groen blare het.

Dit is Ek wat julle sal laat lewe.”

Die pad van die Here is reg

10Almal wat wysheid het,

almal wat verstand het,

moet luister na wat Hosea

in hierdie boek geskryf het.

Julle moet luister,

want die paaie van die Here

is reg.

Regverdige mense

loop op die Here se paaie,

maar die mense wat nie

na Hom wil luister nie,

sal val.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help