Psalms 118 - Bybel vir almal

Ek sal vir almal vertel wat die Here gedoen het

1Julle moet vir die Here dankie sê,

want Hy is goed,

ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.

2Die volk Israel moet sê:

“Ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.”

3Die Aäron-familie moet sê:

“Ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.”

4Die mense wat die Here dien, moet sê:

“Ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.”

5Toe dit sleg gegaan het met my,

het ek geroep

en gevra dat die Here my moet help.

Die Here het my geantwoord

en Hy het my vrygemaak.

6Wanneer die Here by my is,

dan is ek nie bang nie.

Dan kan ander mense niks aan my doen nie.

7Wanneer die Here by my is en Hy help my,

dan sal ek die mense oorwin wat my haat.

8Dit is beter om te vra

dat die Here jou moet beskerm,

beter as om te dink dat mense jou sal help.

9Dit is beter om te vra

dat die Here jou moet beskerm,

beter as om te dink

dat belangrike mense jou sal help.

10Wanneer baie volke my aanval

van al die kante,

dan sal ek hulle terugjaag, want die Here help my.

11Wanneer hulle my aanval van al die kante,

ja, wanneer hulle my van al die kante aanval,

dan sal ek hulle terugjaag, want die Here help my.

12Wanneer hulle my van al die kante aanval soos bye

en hulle word moeg soos doringtakke wat verbrand,

dan sal ek hulle terugjaag, want die Here help my.

13Ek het amper geval,

maar die Here het my gehelp.

14Die Here gee vir my krag,

Hy maak my sterk,

Hy laat my wen teen my vyande.

15Luister hoe sing die mense wat reg lewe

in hulle huise, hulle sing want hulle het gewen.

Die Here het sy hand opgetel en Hy het hulle gehelp,

Hy het hulle laat wen.

16Die Here het sy hand hoog opgetel,

Hy het hulle ver laat wen.

17Ek sal nie sterf nie, ek sal lewe

en ek sal vertel wat die Here gedoen het.

18Die Here het my swaar gestraf

maar Hy het my nie laat sterf nie.

19Julle moet vir my die poorte oopmaak

waar die Here die Regter is,

ek wil deur die poorte gaan en vir die Here dankie sê.

20Hier is die poort van die Here,

mense wat reg gedoen het, kan daardeur gaan.

21Ek wil vir U dankie sê,

want U het my geantwoord, U het my gered.

22Die klip wat die bouers nie wou gebruik nie,

daardie klip het die belangrikste klip

in die gebou geword.

23Die Here het dit laat gebeur,

dit was vir ons 'n wonderwerk.

24Hierdie is die dag wat die Here gemaak het,

ons moet juig en bly wees daaroor.

25Here, ons vra vir U, red ons asseblief,

ons vra vir U, laat dit asseblief goed gaan met ons!

26Ons groet elke persoon wat kom

omdat die Here hom gestuur het,

ons is in die tempel en ons groet julle.

27Die Here is God,

Hy het vir ons die lig laat skyn.

Julle moet die fees begin,

julle moet takke neem

en julle moet dit bring na die horings van die altaar.

28U is my God, ek wil vir U dankie sê,

my God, ek wil vir U prys.

29Julle moet vir die Here dankie sê,

want Hy is goed,

ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help