Miga 4 - Bybel vir almal

Ons sal altyd lewe soos ons God wil hê(Ook Jes 2:2-4)

1Julle sê:

“Eendag sal die berg

waarop die Here se tempel staan,

hoër wees en vaster staan

as die ander berge en heuwels.

Baie volke sal na hierdie berg kom.

2Die mense van baie volke sal kom

en hulle sal sê:

‘Kom ons gaan op teen die berg

van die Here,

na die tempel van die God van Jakob.

Dan sal Hy vir ons leer wat ons moet doen,

en dan kan ons so lewe.

Ons moet na Jerusalem gaan,

dan sal ons weet wat die Here

wil hê ons moet doen

en wat Hy vir ons wil sê.’

3“Die Here sal die regter wees

tussen die volke

en Hy sal die sterk volke

vrede laat maak met mekaar,

die volke wat naby is

en die volke wat ver is.

Dan sal die volke hulle swaarde

en spiese smelt

en hulle sal skerp ysters maak

om te ploeg

en messe om bome se takke af te sny.

Die volke sal nie weer oorlog maak teen mekaar nie

en hulle sal ook nie leer

om oorlog te maak nie.

4Elke Israeliet sal onder

sy eie wingerdstok

of onder sy eie vyeboom sit.

Die Israeliete sal vir niemand

bang wees nie.

Die Here het dit gesê,

Hy regeer oor alles.

5Ja, elke volk lewe

soos sy god wil hê,

maar ons sal altyd lewe

soos ons God wil hê.”

Soos voorheen sal daar weer 'n koning in Jerusalem wees

6Julle sê die Here sê:

“Daardie dag sal Ek

my skape bymekaarmaak.

Hulle pote is seer,

die vyande het hulle weggejaag

na al die kante toe,

want Ek het my volk gestraf.

7Ek sal my skape terugbring,

my skape wat oorgebly het.

Ek het my volk weggejaag,

maar Ek sal hulle terugbring

en Ek sal hulle weer 'n sterk volk maak.

Ek sal self op Sionsberg

oor hulle regeer, vir altyd.

8En soos voorheen sal daar weer

'n koning in Jerusalem wees,

en hy sal kyk

dat dit goed gaan met my volk.”

Jy moet seerkry

9Jerusalem, hoekom skree jy?

Hoekom kry jy seer

soos 'n vrou wat 'n kind kry?

Is jou koning weg?

Is die mense weg

wat vir jou moet sê

wat om te doen?

10Jy moet seerkry,

jy moet skree

soos 'n vrou wat 'n kind kry,

want jou mense

moet uit die stad gaan.

Hulle moet in die veld gaan woon

en dan na die stad Babel gaan.

Die Here sê:

“Daar in Babel sal Ek julle red,

Ek sal julle vrymaak

van julle vyande.”

Die volke verstaan nie die Here se planne nie

11Baie volke het gekom

om oorlog te maak teen julle.

Hulle sê:

“Ons sal die stad oorwin,

ons sal sy mure afbreek!”

12Maar hulle weet nie

wat die Here

met hulle wil doen nie,

hulle verstaan nie

die Here se planne nie.

Die Here het die volke

bymekaargebring

soos 'n boer koring-gerwe

bymekaarbring

op die dorsvloer.

13Nou moet die mense

van Jerusalem die volke trap

soos beeste die koring-gerwe trap.

Die Here sê:

“Ek gee vir hulle ysterhorings

en brons-pote.

Dan kan hulle die volke fyntrap

en hulle kan die volke se goed vat

en vir My present gee.”

Die volke se goed sal behoort

aan die Here van die hele aarde.

Die nuwe koning sal kom

14Julle sê:

“Jerusalem is 'n stad

waar daar baie diewe is,

en die vyande maak oorlog

teen die mense in die stad.

Die vyande kom van al die kante,

en hulle wil die koning van Israel

met stokke teen sy gesig slaan.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help