Psalms 25 - Bybel vir almal

Mense wat in die Here glo, sal nie verloor nie

1Van Dawid.

Here, ek bid tot U, net tot U.

2My God, ek glo dat U sal doen wat U belowe het.

U moenie dat ek verloor teen my vyande nie,

U moenie dat hulle juig

omdat dit sleg gaan met my nie.

3En ook, ek bid dat mense wat in U glo,

nie sal verloor nie.

Die mense wat nie doen wat U wil hê hulle moet doen nie,

U moet húlle laat verloor.

4Here, U moet vir my sê wat U wil hê ek moet doen,

U moet vir my leer hoe ek moet lewe.

5Leer my om reg te lewe, soos U wil hê,

want U is die God wat my red,

ek glo altyd dat dit net U is wat my kan help.

6Here, U moet onthou hoe U altyd

jammer was vir my,

hoe U altyd gedoen het wat U belowe het.

7Here, U moenie dink aan die sondes

wat ek gedoen het toe ek jonk was nie,

U moenie daaraan dink dat ek opstandig was

teen U nie.

U moet aan my dink omdat U altyd doen

wat U belowe het,

omdat U goed is.

8Die Here is goed en Hy doen altyd reg.

Dit is hoekom Hy vir sondaars leer

hoe hulle moet lewe.

9Hy laat dit reg gaan met mense

wat hulleself nie kan help nie

wanneer ander mense

hulle oordeel.

Hy leer vir die mense wat hulleself nie kan help nie,

Hy leer vir hulle hoe hulle moet lewe.

10Die Here doen altyd wat hy belowe het

vir die mense wat gehoorsaam is

aan sy verbond en sy wette.

11Here, vergewe my sondes, dit is baie,

doen dit, want ek behoort aan U.

12Wanneer iemand die Here wil dien,

dan sal die Here vir hom leer hoe hy moet lewe.

13Dit sal altyd goed gaan met so iemand,

en die land sal aan sy nageslag behoort.

14Die Here vertel vir die mense wat Hom dien,

alles wat Hy besluit,

Hy sê vir hulle wat sy verbond beteken.

15Ek wag elke dag dat die Here my moet help,

want dit is Hy wat my voete losmaak

uit die vangnet waarin mense my wil vang.

16Kyk na my, Here,

U moet genadig wees vir my,

ek is alleen en ek kan myself nie red nie.

17Ek is baie bekommerd,

red my van alles wat my laat swaarkry.

18Kyk hoe sleg gaan dit met my

en hoe swaar kry ek,

vergewe al my sondes.

19Kyk hoe baie vyande het ek,

kyk hoe baie haat hulle my.

20Beskerm my en red my,

moenie dat ek verloor nie,

want ek vra dat U my moet beskerm.

21Ek bid dat U my moet help

om 'n goeie en 'n eerlike mens te bly,

ja, ek glo dat U my sal help.

22O God, U moet die volk Israel vrymaak

van alles wat hulle laat swaarkry.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help