Psalms 49 - Bybel vir almal

As 'n mens ryk is en nie verstandig is nie, dan is hy soos die diere

1Vir die leier van die koor: Van die Korag-groep. 'n Psalm.

2Al die mense moet luister na wat ek sê,

almal wat in die wêreld woon, moet dit hoor,

3almal saam, ryk mense en arm mense.

4Ek sal woorde van wysheid praat,

ek sal verstandige dinge sê.

5Ek wil luister na 'n spreuk

en terwyl ek op die lier speel,

wil ek sê wat dit beteken.

6Ek sal nie bang word

wanneer dit sleg gaan nie,

wanneer ek die sondes rondom my sien

van mense wat my bedrieg nie.

7Hulle dink hulle geld en rykdom sal hulle help,

hulle spog oor die baie goed wat hulle het.

8Een mens kan nie 'n ander mens

loskoop van die dood nie, glad nie,

hy kan nie vir God betaal

om die persoon vry te maak nie.

9Om te betaal vir sy lewe,

sal te veel kos.

Hy sal nooit genoeg kan betaal

10sodat hy vir altyd kan lewe

en nie in die graf kom nie.

11Ja, hy sal sien dat wyse mense ook sterf

soos dwase en dom mense,

hy sal sien hulle sterf

en hulle los hulle geld en rykdom vir ander mense.

12Hulle bly altyd in die graf,

elke nuwe geslag sien dat hulle daar is,

hierdie mense wat voorheen

elkeen sy eie grond gehad het.

13'n Mens lewe nie vir altyd nie,

ook nie as hy ryk is nie,

hy is soos die diere wat sterf.

14Dit is wat gebeur met mense

wat dink dat hulle alles het,

mense wat graag luister na wat hulle self sê.

Sela

15Hulle moet ook sterf, soos skape,

hulle behoort aan die dood.

Hulle gaan dadelik in die graf in,

dan sien niemand hulle nie,

en hulle het niks.

16Maar God self sal my lewe red

van die doderyk,

ja, Hy sal my neem om aan Hom te behoort.

Sela

17Jy moenie bekommerd wees

wanneer iemand ryk word

en die goed in sy huis baie word nie,

18want hy sal niks met hom saamneem

wanneer hy sterf nie,

sy goed sal nie saam met hom gaan nie.

19Ja, iemand kan dink

dat hy gelukkig is terwyl hy lewe,

en mense kan hom prys

omdat dit goed gaan met hom.

20Maar hy sal na sy voorvaders toe gaan

en nooit weer die lig sien nie.

21As 'n mens ryk is en nie verstandig is nie,

dan is hy soos die diere wat sterf.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help