Jesaja 52 - Bybel vir almal

My volk sal my Naam ken

1 Sion, jy moet wakker word,

jy moet wakker word,

jy moet weer sterk wees.

Jerusalem, gewyde stad,

jy moet mooi klere aantrek,

want mense wat nie besny is nie,

mense wat onrein is,

sal nie meer in jou kom nie.

2Jerusalem, jy was soos 'n gevangene.

Jy het in die stof gesit

en daar was 'n tou om jou nek.

Skud af die stof, maak los die tou.

3Ja, die Here sê:

“Ek het julle verkoop,

maar Ek het nie geld gekry nie.

Ek sal julle vrymaak,

maar Ek sal nie geld betaal nie.”

4Ja, die Here sê:

“Eers het my volk na die land Egipte gegaan.

Hulle was daar vreemdelinge.

Hulle het niks gedoen aan die Assiriërs nie,

maar die Assiriërs het hulle verdruk.

5En nou, wat sal Ek hier doen?”

Die Here sê dit.

“Vyande het my volk gevat,

maar my volk het niks

aan hulle gedoen nie.

My volk se regeerders huil.”

Die Here sê dit.

“Die vyande hou die hele dag aan

om sleg te praat van My.

6Daarom sal my volk weet wie Ek is,

daarom sal hulle daardie dag weet

dit is Ek wat sê: Hier is Ek.”

Gaan weg uit Babel

7Daar kom 'n boodskapper oor die berge.

Dit is mooi om te sien hoe hy hardloop.

Hy kom sê daar sal vrede wees.

Hy bring goeie nuus,

hy kom sê die Here sal sy volk red.

Hy kom sê vir Sion: “Jou God is Koning.”

8Luister, Sion, jou wagte skree, hulle juig almal,

want hulle sien self

dat die Here terugkom na jou toe.

9Klippe van Jerusalem,

julle moet bly wees,

julle moet saam juig,

want die Here laat dit weer goed gaan

met sy volk.

Hy het Jerusalem vrygemaak.

10Die Here het vir al die volke gewys

dat sy heilige arm sterk is.

Al die mense op die aarde sal sien

dat ons God ons red.

11Gaan weg uit Babel, loop!

Kom uit daardie land.

Moenie raak aan daardie onrein plek nie.

Julle wat die tempel-gereedskap van die Here dra,

julle moet uitkom, julle moet rein bly.

12Wanneer julle daar weggaan,

dan sal julle nie hardloop nie,

julle sal nie vlug nie,

want die Here sal julle lei,

die God van Israel sal by julle wees.

Die Here sê sy dienaar sal baie belangrik word

13Die Here sê:

“Kyk, my dienaar sal doen

wat hy moet doen,

hy sal baie belangrik word.

14Voorheen was baie mense

verbaas oor hom.

Hy het sleg gelyk,

hy het amper nie meer

soos 'n mens gelyk nie.

15Maar toe het hy baie volke

regop laat staan,

hulle was verbaas,

en konings het opgehou

om hom te beskuldig,

want hulle het dinge gesien,

niemand het vir hulle daarvan vertel nie,

hulle het dinge geweet

wat niemand vir hulle gesê het nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help