Miga 7 - Bybel vir almal

Die dag sal nou kom

1Dit gaan sleg met my!

Dit is soos wanneer die mense

die koring klaar afgesny het

en die laaste druiwe gepluk het.

Dan is daar nie meer druiwe

of vye om te eet nie.

2Daar is niemand in die land wat lewe

soos die Here dit wil hê nie.

Almal wil mense vermoor,

hulle wil mekaar doodmaak.

3Hulle weet baie goed

hoe om verkeerd te doen.

Die amptenare en die regters

vra geld

wanneer hulle iets moet doen.

Die belangrike mense sê

wat hulle wil hê

en hulle kry dit.

Waar hulle is, is alles sleg.

4Die beste amptenare en regters

is soos 'n bos vol dorings.

Dit lyk of hulle reg lewe,

maar hulle is sleg.

Die dag sal nou kom,

die dag wanneer die Here

hulle sal straf.

Hulle sal nie meer weet

wat om te doen nie.

5Jy kan nie meer glo

wat jou vriend vir jou sê nie.

Jy moet oppas

wat jy vir jou vrou sê.

6Seuns respekteer nie meer

hulle pa's nie,

dogters is parmantig met hulle ma's,

en skoondogters met

hulle skoonma's.

'n Man se eie familie is sy vyande.

My God sal luister na my gebed

7Maar ek sal wag totdat die Here kom,

ek sal wag totdat my God my kom red.

My God sal luister na my gebed.

Hy sal dit goed laat gaan met ons

8Die mense van Jerusalem sê vir hulle vyande:

“Julle moenie bly wees

omdat dit so sleg gaan

met ons nie.

Ons het geval,

maar ons sal weer opstaan.

Ons sit in die donker,

maar die Here is ons lig.

9Ons het sonde gedoen

teen die Here,

en daarom sal ons tevrede wees

wanneer Hy ons straf.

Maar Hy sal ons weer help.

Hy sal dit goed laat gaan

met ons.

Hy sal die donker wegvat

en Hy sal ons na die lig bring.

Hy sal ons red.”

10Die mense van Jerusalem sê:

“Ons vyande sal dit sien,

en hulle sal nie weet

wat om te doen nie.

Hulle het vir ons gesê:

‘Waar is julle God die Here?

Hy help julle nie.’

Nou sal ons sien

wat met hulle gebeur:

Hulle vyande sal op hulle trap

soos hulle op die modder

in die strate trap.”

11Jerusalem, die dag is naby

wanneer hulle weer

jou mure sal bou.

Hulle sal dan nog meer huise

in jou bou.

12Daardie dag sal jou mense

na jou toe terugkom

uit Assirië en uit Egipte,

van die Eufraat-rivier

en van oral in die wêreld.

13Maar in die ander lande

sal daar nie mense woon nie,

want hulle mense

het baie sonde gedoen.

Ek sal die volk help

14Die Here sê:

“Jy moet jou volk oppas.

Jy moet die skape en bokke

wat aan jou behoort, laat wei.

Hulle is nou alleen in die bos

op Karmel-berg.

Hulle moet weer in die lande

Basan en Gilead wei,

soos lank gelede.”

15Die Here sê:

“Ek sal die volk help.

Hulle sal weer wonderwerke

sien, soos lank gelede

toe julle uit Egipte gekom het.”

16Die volke sal dit sien

en hulle sal nie weet

wat om te doen nie.

Hulle sal niks kan doen nie,

hulle sal hulle monde en hulle ore

toedruk met hulle hande.

17Hulle sal stof lek soos slange

wat op die grond seil.

Hulle sal bewe

en uit hulle wegkruip-plekke kom

na ons God die Here toe.

Hulle sal skrik,

hulle sal bang wees vir Hom.

U sal die Israeliete nie los nie

18Daar is nie nog 'n God

soos U nie, Here.

U vergewe ons sonde.

Ons is die mense

van u volk,

die mense wat nog lewe.

U bly nie altyd kwaad nie,

U wil graag lief wees vir ons.

19U sal weer goed wees vir ons,

U sal ons sonde stukkend trap

en dit in die see gooi.

20U sal die Israeliete nie los nie.

U sal altyd lief wees

vir die nageslag van Abraham.

U het dit belowe aan ons voorvaders,

lank gelede.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help