Psalms 147 - Bybel vir almal

Dit is goed om vir ons God te sing

1Julle moet die Here prys!

Want dit is goed om vir ons God te sing,

ja, dit is lekker en dit is reg om Hom te prys.

2Dit is die Here wat Jerusalem weer bou,

dit is Hy wat die mense bymekaarbring

wat gevangenes is in ander lande.

3Dit is Hy wat mense gesond maak,

mense wat baie moedeloos is,

dit is Hy wat hulle seerplekke toedraai.

4Dit is Hy wat besluit

hoeveel sterre daar moet wees,

en Hy ken elke ster se naam.

5Ons Here is groot en baie sterk,

'n mens kan nie sy wysheid meet nie.

6Dit is die Here wat mense optel,

die mense wat hulleself nie kan help nie,

dit is Hy wat mense op die grond gooi,

die mense wat verkeerd lewe.

7Julle moet sing en vir die Here dankie sê,

julle moet vir ons God musiek maak op die lier.

8Dit is Hy wat die lug met wolke toemaak,

Hy wat die reën vir die aarde gereedmaak,

Hy wat die gras op die berge laat groei.

9Dit is Hy wat vir die diere hulle kos gee,

en ook vir die kraaie se kuikens

wanneer hulle skree.

10Sterk perde of vinnige manne

is nie belangrik vir die Here nie,

11maar Hy hou van mense wat Hom dien,

mense wat glo dat Hy sal doen

wat Hy belowe het.

12Mense van Jerusalem,

julle moet die Here prys,

mense van Sion, julle moet julle God prys,

13want Hy maak die sluitbalke

van julle poorte sterk,

Hy seën julle wat in die stad woon.

14Dit is Hy wat dit goed laat gaan in julle land

en wat vir julle die beste koring gee om te eet,

meer as genoeg.

15Dit is Hy wat 'n boodskap na die aarde stuur,

en sy boodskap kom vinnig daar.

16Dit is Hy wat die sneeu gee, wit soos wol,

Hy laat die ryp soos as op die grond lê.

17Dit is Hy wat die hael laat val,

fyn soos krummels.

Niemand kan die koue keer wat Hy stuur nie.

18Wanneer Hy dit sê,

dan smelt die hael en die sneeu,

wanneer Hy die wind laat waai,

dan vloei die water.

19Dit is Hy wat vir Jakob sy boodskap stuur,

dit is Hy wat vir die mense van Israel sê

wat sy wette en besluite is.

20Hy het dit nie vir 'n ander volk gedoen nie,

hulle weet nie wat Hy besluit nie.

Julle moet die Here prys!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help