Job 21 - Bybel vir almal

Job sê sy vriende moet goed luister na wat hy sê

1Job het weer gepraat. Hy het gesê:

2“Julle moet goed luister na wat ek sê,

dan sal julle my beter kan troos.

3Julle moet geduldig wees met my

sodat ek kan praat.

Julle kan spot wanneer ek klaar

gepraat het.

4Ek kla nie oor mense nie,

ek kla oor God.

En hoekom mag ek nie ongeduldig

wees nie?

5Julle moet na my kyk,

dan sal julle geskok en ontsteld wees

en dan sal julle stilbly.

6As ek daaraan dink,

dan word ek baie bang,

en my hele liggaam bewe.”

Job vra hoekom dit goed gaan met mense wat verkeerd doen

7“Ek vra hoekom kan die mense

wat verkeerd doen,

aanhou lewe en oud word.

Hoekom word hulle baie belangrik?

8Hulle nageslag is by hulle,

hulle sien dat hulle afstammelinge het.

9Dit gaan goed met hulle huisgesinne,

hulle is nie bang nie,

God laat hulle nie swaarkry nie.

10Die mense wat verkeerd doen

se beeste kry meer en meer kalwers.

11Hulle kinders hardloop rond en hulle dans

soos skape en bokke.

12Die mense wat verkeerd doen,

sing en hulle vier fees,

hulle speel op die tamboeryn

en die lier en die fluit.

13Hulle lewe gelukkig en hulle het vrede

wanneer hulle sterf.

14Hulle sê vir God: ‘Los ons, ons wil nie weet

wat U wil hê ons moet doen nie.

15Wie is die Almagtige,

hoekom moet ons Hom dien?

Sal dit help as ons Hom soebat

om ons te help?’

16Hierdie mense dink

dat dit goed gaan met hulle

omdat hulle self daarvoor werk.

Die mense wat verkeerd doen,

dink nie soos ek dink nie.

17Blaas God die lamp dood

van die mense wat verkeerd doen?

Nee!

Laat Hy dit sleg gaan met hulle?

Word Hy kwaad vir hulle en straf Hy hulle?

18Verdwyn hulle soos kaf wat wegwaai

of soos droë blare in 'n stormwind?

Nee!

19Julle sê God straf die kinders

van die mense wat verkeerd doen.

Maar ek sê Hy moet die óúers self straf,

húlle moet dit self voel.

20Die sondaar moet self swaarkry,

hy moet weet dat die Almagtige kwaad is vir hom.

21Die sondaar is nie bekommerd

oor hoe dit sal gaan met sy huisgesin

nadat hy self gesterf het nie.

22Niemand kan vir God iets leer

wat Hy nie weet nie,

God wat regeer oor almal in die hemel.

23Een mens bly gesond totdat hy sterf,

hy lewe rustig en veilig,

24hy eet lekker en hy word vet.

25'n Ander mens is nooit gelukkig nie,

hy kry swaar totdat hy sterf.

26Maar hulle altwee sterf en hulle

word begrawe,

en die wurms vreet hulle op.

27Ek weet wat julle dink,

ek weet dat julle my nog meer

wil laat seerkry.

28Julle wil vra: ‘Waar is die huis

van die belangrike man?

Wat het oorgebly van die plek

waar die mense gewoon het

wat verkeerd doen?’

Niks!

29Het julle vir die mense gevra

wat op die pad verbykom?

En as julle gevra het,

het julle geluister?

Nee!

30Hulle sou vir julle gesê het

dat 'n slegte mens veilig bly

wanneer dit sleg gaan met ander mense.

Hulle sou gesê het dat die slegte mens

aanhou lewe wanneer God ander mense straf.

31Niemand sê vir die slegte mens

dat hy verkeerd gedoen het nie,

niemand straf hom oor sy sondes nie.

32En wanneer hy sterf en begrawe word,

dan sal die mense wagstaan by sy graf.

33Hy kry 'n mooi graf in die vallei,

en baie mense loop saam,

hulle loop voor en agter sy lyk,

hulle is so baie mense dat niemand

hulle kan tel nie.

34Nee, julle probeer om my te troos met wind,

julle is vals wanneer julle hierdie dinge vir my sê.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help