Jesaja 40 - Bybel vir almal

Dit sal nou beter gaan

1Die profeet het gesê:

“Julle moet vir my volk sê

dit sal nou beter gaan,

julle moet sê

dit sal beter gaan.”

Dit sê julle God.

2“Julle moet die mense

van Jerusalem bly maak,

julle moet vir hulle sê

hulle is nou nie meer slawe nie,

hulle het klaar swaargekry.

Ek het hulle klaar gestraf

oor al hulle sondes.”

Die Here sal verskyn

3Iemand het geskree:

“Julle moet in die woestyn

'n pad gereedmaak vir die Here,

julle moet die pad gelykmaak vir ons God!

4Julle moet al die valleie

toegooi met grond

en julle moet al die berge plat maak,

julle moet die heuwels wegvat

sodat die grond gelyk is.

5Dan sal die Here verskyn

en Hy sal vir almal wys Hy is die Koning.

Die Here self het gesê

dat Hy dit sal doen.”

6Iemand het gesê:

“Jy moet hard praat

sodat almal jou kan hoor.”

En ek het gesê: “Wat moet ek sê?

Mense is soos gras,

ook as hulle mooi en goed is,

is hulle soos die veldblomme.

7Wanneer die Here die wind laat waai

oor die gras en die blomme,

dan word hulle droog en hulle verlep.

Ja, die mense is soos gras.

8Gras en blomme word droog

en verlep,

maar die dinge wat ons God sê,

sal nooit verander nie.”

9Mense van Jerusalem,

mense van Sion,

julle moet die boodskappers wees

wat die goeie nuus bring.

Julle moet hoog op 'n berg klim

en hard skree.

Julle moenie bang wees nie,

julle moet vir die stede van Juda sê:

“Hier kom julle God!

10Kyk, die Here kom,

Hy is die Sterk God,

Hy kan doen wat Hy wil doen.

Kyk, Hy bring sy mense saam,

sy volk is by Hom.

11Hy sal vir hulle sorg

soos 'n herder vir sy skape sorg.

Hy sal die skaap-lammers bymekaarmaak

en teen sy bors dra,

Hy sal die ooie wat lammers het,

so lei dat hulle nie seerkry nie.”

Dink julle iemand kan soos God wees?

12Wie het gesê hoeveel water

daar moet wees

en hoe groot die lug daarbo

moet wees?

Wie het gesê hoeveel grond

daar moet wees

en hoe hoog die berge en die heuwels

moet wees?

13Wie mag vir die Here sê

wat Hy moet dink,

wie mag vir Hom sê

wat die regte dinge is

wat Hy moet doen?

14Vir wie het die Here gevra

wat Hy moet doen?

Wie het vir Hom geleer

en vir Hom gesê

wat die regte ding is om te doen?

Wie het vir Hom geleer

om alles te verstaan?

Niemand.

15Al die volke beteken niks,

ook die mense by die see

beteken niks.

Hulle is soos 'n druppel water

uit 'n emmer,

hulle is soos 'n bietjie stof

op 'n weegskaal.

16Al die hout en al die wilde diere

op die Libanon-berg is te min

om vuur te maak

en vir die Here 'n brand-offer te bring.

17Al die volke is soos niks voor die Here,

by Hom is hulle minder as niks,

hulle is nul.

18Dink julle iemand kan soos God wees?

Wat kan julle langs Hom sit

wat soos Hy sal wees?

19Dink julle 'n afgodsbeeld is soos die Here?

Nee.

'n Beeld is iets wat 'n ambagsman maak

en met goud oortrek

en met silwerkettings vasmaak.

20Of 'n beeld is iets

wat 'n ambagsman uit harde hout sny

en vas laat staan

sodat dit nie omval nie.

Wie het die sterre gemaak?

21Weet julle nie?

Het julle nie gehoor nie?

Het niemand dit vir julle vertel nie?

Kan julle nie verstaan nie?

Dit is God wat die aarde gemaak het!

22Sy troon is

bokant die hemeldak,

en die mense op die aarde

lyk vir Hom soos sprinkane.

Dit is God wat die hemeldak styftrek,

soos 'n spinnekop se net

of soos 'n tent.

23Hy maak belangrike mense onbelangrik,

Hy laat mense wat regeer, soos niks word.

24Hulle is soos plante:

Wanneer hulle nog klein is,

dan laat God die warm wind oor hulle waai,

en hulle word droog

en die stormwind waai hulle weg

soos kaf.

25Die heilige God vra:

“Dink julle daar is iemand soos Ek?

Is daar iemand wat soos Ek is?

26Kyk op.

Wie het die sterre gemaak

en wie het gesê

hoeveel sterre daar moet wees?

Wie het vir elke ster 'n naam gegee?

Hulle is almal daar

omdat Ek die God is

wat kan doen wat Ek wil doen.”

Die mense wat in die Here glo, sal nuwe krag kry

27 Nageslag van Jakob,

mense van Israel,

hoekom sê julle die Here sien nie

wat met julle gebeur nie?

Hoekom sê julle

dit maak nie vir God saak

wanneer mense slegte dinge

aan julle doen nie?

28Weet julle nie,

het julle nie gehoor nie?

Die Here is God vir altyd,

Hy het die hele wêreld gemaak.

Hy word nie moeg nie

en Hy rus nie,

en niemand kan weet hoeveel

die Here weet nie.

29Die Here maak mense weer sterk

wat moeg is.

Hy laat mense dinge doen

wanneer hulle dit self nie meer

kan doen nie.

30Seuns sal moeg word,

jongmanne sal val,

31maar die mense wat in die Here glo

en wat op Hom vertrou,

sal nuwe krag kry.

Hulle sal vlieg soos arende,

hulle sal hardloop

en nie moeg word nie,

hulle sal aanhou loop, en nie rus nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help