Jeremia 2 - Bybel vir almal

Die Here sê: My volk het My gelos en hulle het afgode aanbid

1Die Here het met my gepraat en vir my gesê:

2“Gaan praat met die mense van Jerusalem. Hulle moet goed hoor wat jy sê. Jy moet vir hulle sê Ek sê:

“Jerusalem, jy was vir My soos 'n bruid.

So onthou Ek jou.

Jy was lief vir My toe jy jonk was,

toe jy my bruid was.

Jy het saam met My geloop in die woestyn,

die plek waar mense nie koring saai nie.

3 Israel is net Myne,

hulle is soos die eerste koring-are,

en Ek sal almal swaar straf

wat van hierdie koring-are eet.”

Dit het die Here gesê.

4 Nageslag van Jakob,

al die families van Israel,

julle moet luister na wat die Here sê.

5Die Here vra:

“Wat het Ek verkeerd gedoen

teen julle voorvaders?

Hoekom het hulle weggegaan van My?

Hoekom het hulle saam met afgode geloop,

afgode wat niks beteken nie?

So het julle voorvaders self niks geword.

6“Hulle het nie gevra:

“ ‘Waar is die Here wat vir ons

uit Egipte gebring het,

die Here wat ons deur die woestyn

gebring het?’ nie.

Dit is 'n droë plek

waar dit baie gevaarlik is,

'n plek waar daar nie water is nie

en waar dit donker is,

'n plek waar niemand kom nie

en waar niemand woon nie.

7Ek het julle gebring in 'n land

vol vrugtebome

waar julle lekker kon eet van alles,

maar toe het julle my land onrein gemaak.

Julle het die land wat aan My behoort,

vuil gemaak met julle sonde.

8Die priesters moes vir die mense sê

wat Ek wil hê,

maar hulle het nie gevra waar Ek is nie,

hulle het My nie geken nie.

Die mense wat oor my volk moes regeer,

was téén My.

Die profete het boodskappe van Baäl gebring,

en hulle het afgode gedien

wat niks beteken nie.

9Daarom beskuldig Ek julle weer,

julle en julle nageslag.

10Ek sê vir julle: Gaan kyk

tot in die verste lande,

in die Kittiër-eilande en in Kedar,

gaan vra of so iets al daar gebeur het.

11Het 'n volk sy gode gelos

en ander gode gekies,

goed wat nie regtig gode is nie?

Nee.

Maar my volk het My, die ware God,

gelos en afgode gekies wat niks beteken nie.

12Hieroor moet almal in die hemel

so groot skrik dat hulle hare regop staan,

hulle moet bang wees en bewe.

13Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen.

Ek wou vir hulle die water gee wat hulle sal laat lewe,

maar hulle het My nie meer gedien nie

en hulle het vir hulleself watergate uitgekap,

gate wat nie water kon hou nie.

14Is die mense van Israel slawe?

Is hulle slawe se kinders?

Hoekom het mense hulle weggevat

uit hulle stad?

15Die vyande van die Israeliete was

soos leeus wat brul.

Hulle het die mense weggevat uit die land,

hulle het die stede verwoes, daar het niemand oorgebly nie.

16Mense van Juda, die soldate

uit die stede Nof en Tagpanges in Egipte

sal ook alles wegvat uit julle land.

17Dit sal gebeur, want julle het verkeerd gedoen.

Julle God die Here het julle gelei op julle pad,

maar julle het Hom gelos.

18Julle wil nou in Egipte gaan water drink

uit die Sigor-rivier

of in Assirië uit die Eufraat-rivier,

julle wil vra dat daardie mense julle moet help,

maar hulle sal julle nie help nie.

19Julle het verkeerd gedoen,

julle was opstandig teen My,

daarom sal Ek julle straf.

Julle sal weet en sien hoe sleg en bitter dit is

nadat julle My, julle God die Here, gelos het

en My nie meer respekteer en dien nie.”

Dit het die Here gesê, die Here wat oor alles regeer.

20Hy sê:

“Ja, julle was nog altyd soos beeste

wat hulle jukke breek

en hulle stroppe stukkend ruk en sê:

‘Ons wil nie vir ons eienaar werk nie.’

Julle het afgode gedien op elke hoë heuwel

en onder elke groen boom.

21Ek het julle self geplant,

julle was goeie wingerdstokke.

Maar kyk nou hoe het julle verander!

Julle het wilde wingerdstokke geword

wat slegte druiwe dra.

22Julle kan julle was met die sterkste seep,

met baie seep,

maar Ek sal nog altyd sien dat julle sonde

julle vuil gemaak het.”

Dit sê die Here, Hy wat Here is.

23“Julle sê julle het julleself nie

onrein gemaak nie,

julle sê julle het nie met die Baäls

saamgegaan nie.

Maar kyk wat het julle gedoen

in die Hinnom-vallei.

Julle het gemaak soos 'n jong kameel-koei

wat by 'n bul wil kom.

Sy loop heen en weer,

24sy hardloop in die woestyn in

en ruik waar 'n bul is,

niemand kan haar keer nie.

'n Bul wat haar soek, kry haar maklik

wanneer dit vir haar die regte tyd is

om by 'n bul te kom.

25Julle loop ver om die afgode te soek,

julle loop totdat julle skoene stukkend is.

Julle word dors op die pad na hulle toe,

maar julle sê: ‘Dit maak nie saak nie,

ons is lief vir die gode van ander volke

en ons sal saam met hulle gaan.’

26Wanneer 'n dief gevang word,

dan weet hy nie wat om te doen nie.

So sal dit ook gaan met die volk Israel

en met hulle konings, hulle amptenare,

hulle priesters en hulle profete.

27Hulle is mense wat vir 'n stuk hout

of vir 'n klip sê:

‘Jy is my pa, ek is jou kind.’

Ja, hulle het hulle rug na My toe gedraai,

nie hulle gesig nie.

Maar wanneer dit sleg gaan met hulle,

dan sê hulle: ‘Kom red ons!’

28Maar waar is julle gode wat julle

vir julle gemaak het?

Hulle moet kom en julle red

wanneer dit sleg gaan met julle,

as hulle dit kan doen.

Want, Juda, julle het net so baie

gode gehad soos stede.

29Hoekom sê julle dit is my skuld

dat dit sleg gaan met julle?

Dit is julle almal wat

opstandig was teen My.”

Dit het die Here gesê.

30Hy sê:

“Ek het julle kinders gestraf,

maar hulle het nie geluister nie.

Julle het julle profete doodgemaak

soos leeus diere doodmaak.”

31Julle wat nou lewe,

julle moet hoor wat sê die Here:

“Was Ek vir die Israeliete soos

'n woestyn of soos 'n donker land?

Hoekom sê my volk:

‘Ons het weggegaan van U,

ons wil nie terugkom na U toe nie?’

32'n Jongmeisie vergeet nie haar juwele nie,

'n bruid vergeet nie haar trouklere nie.

Maar my volk het My gou vergeet.

33Julle weet baie goed

hoe om ontrou te wees,

ook slegte vroue kan by julle leer.

34Julle het mense laat doodmaak

wat nie verkeerd gedoen het nie.

Hulle was arm mense

wat nie gesteel het nie.

Julle het dit alles gedoen,

35maar julle sê:

‘Ons het nie verkeerd gedoen nie,

die Here is nie meer kwaad vir ons nie.’

Ek wil julle nou straf omdat julle gesê het

julle het nie sonde gedoen nie.

36Julle vra vir die een volk om julle te help,

en dan vir die ander volk,

maar die Assiriërs het julle nie gehelp nie

en die Egiptenaars sal julle ook nie help nie.

37Julle het mense na Egipte gestuur,

maar hulle sal moedeloos terugkom uit Egipte,

want vir die Here is daardie volke

nie belangrik nie, hulle sal nie help

dat dit met julle goed gaan nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help