Jesaja 61 - Bybel vir almal

Goeie nuus vir mense wat swaarkry

1Dit is die Gees van die Here

wat my lei, Hy wat Here is,

want die Here het my gesalf.

Hy het my gestuur

om goeie nuus te bring

vir mense wat swaarkry,

om mense te troos

wat huil en treur,

om vir gevangenes

wat geboei is, te sê

hulle is vry, hulle mag uitgaan.

2Ek moet vir almal sê

dit is nou die tyd wanneer die Here

goed sal wees vir ons.

Ons God sal sy vyande straf

maar Hy sal dit goed laat gaan

met almal wat nou huil en treur.

3Hy sal alles verander

vir die mense van Sion wat nou treur.

Daar is nou as op julle koppe,

maar julle sal blomme op julle koppe hê.

Julle treur nou,

maar julle sal bly wees

en julle sal olyf-olie aan julle smeer.

Julle voel nou baie hartseer,

maar julle sal sing

en fees-klere aantrek.

Ander mense sal sê julle,

die mense van Sion,

is bome wat regtig is

soos die Here wil hê

hulle moet wees.

Die Here het hulle geplant

om Hom te eer.

4Julle sal die stede weer bou,

die stede wat nou net hope klippe is,

die plekke wat lank gelede verwoes is

en wat baie jare lank so stukkend gelê het.

5Mense uit ander lande sal vir julle werk.

Hulle sal julle skape en bokke oppas

en in julle lande en wingerde werk.

6Julle self sal priesters van die Here wees,

mense wat vir ons God werk.

Die duur en mooi dinge van die volke

sal aan julle behoort,

en julle sal dit geniet en lekker eet.

7Ander mense het julle verneder

en hulle het gesê julle beteken niks,

maar julle sal twee maal meer kry

as wat julle voorheen gehad het,

en mense sal sê julle is baie belangrik.

Julle sal in julle land twee maal meer hê

as ander mense

en julle sal altyd bly wees.

8Die Here sê: “Ek, die Here,

is lief vir wat reg is,

maar Ek haat mense

wat ander mense se goed steel

en wat nie reg doen aan hulle nie.

Ek sal alles vir my volk gee

wat Ek vir hulle belowe het,

Ek sal 'n verbond met hulle maak,

'n verbond wat altyd sal aanhou.

9Die ander volke sal die nageslag van my volk ken.

Almal wat die mense van hierdie geslag sien,

sal weet die Here seën hulle.”

10Die Here het my baie bly gemaak,

my God het my laat juig.

Hy het my gered en gesê

ek mag weer aan Hom behoort.

Hy het vir my fees-klere aangetrek,

ek is soos 'n bruidegom

wat 'n kroon dra soos 'n priester,

ek is soos 'n bruid

wat haar juwele aansit.

11Daar kom nuwe bome uit die aarde,

daar groei nuwe plante in 'n tuin,

so sal die Here alles laat groei

wat reg is.

Ja, Hy sal al hierdie dinge doen.

Al die volke sal hoor

hoe prys sy mense Hom.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help