1 Korintiërs 13 - Bybel vir almal

Die belangrikste is om lief te wees vir God en vir ander mense

1Miskien sal ek die tale van mense

en van engele kan praat,

maar as ek nie lief is vir God

en vir ander mense nie,

dan is ek soos 'n klok of soos

'n simbaal wat net raas.

2Miskien sal ek God se boodskap

kan bring,

en al die geheime kan ken,

en alles kan weet.

Miskien sal ek so sterk kan glo

dat ek berge kan wegskuif,

maar as ek nie lief is vir God

en vir ander mense nie,

dan beteken ek niks.

3Miskien sal ek al my goed

kan weggee,

en miskien sal ek myself kan gee

sodat mense my slaan

en seermaak,

en sal ek daaroor spog,

maar as ek nie lief is vir God

en vir ander mense nie,

dan help dit my niks.

4Iemand wat lief is vir God

en vir ander mense,

is geduldig en vriendelik,

hy is nie jaloers nie,

hy spog nie, hy is nie

hoogmoedig nie,

5hy doen nie lelike dinge nie,

hy is nie selfsugtig nie,

hy word nie gou kwaad nie,

hy onthou nie vir altyd

dat mense slegte dinge

aan hom gedoen het nie,

6hy is nie bly wanneer mense

verkeerde dinge doen

aan ander mense nie,

hy is baie bly wanneer mense

die waarheid praat.

7Hy word nooit moedeloos nie,

hy hou aan om te glo en te hoop,

hy bly geduldig.

8Hy hou nie op om lief te wees

vir God en vir ander mense nie.

Daar is genadegawes

wat sal ophou:

Om God se boodskap te bring,

sal ophou.

Om in tale te praat, sal ophou.

Om baie dinge te weet, sal stop.

9Want ons weet net 'n bietjie,

en ons bring net 'n bietjie

van God se boodskap.

10Maar eendag, wanneer alles is

soos God dit wil hê,

dan sal die dinge wat ons nou

ken en het,

nie meer nodig wees nie.

11Toe ek 'n kind was,

het ek dinge gesê soos 'n kind

dit sê,

ek het gedink soos 'n kind,

en ek het oor die lewe gepraat

soos 'n kind.

Maar toe ek 'n grootmens

geword het,

het ek die dinge van 'n kind gelos.

12In hierdie lewe sien ons alles

baie dof,

ons sien dinge soos in

'n dowwe spieël.

Maar eendag sal ons alles

helder sien,

soos wanneer 'n mens

voor iemand staan

en jy kan sy gesig goed sien.

Nou weet ek nog nie alles nie.

Maar eendag sal ek alles weet,

soos God nou alles van my weet.

13Daar is net drie dinge

wat regtig belangrik is,

en dit is:

om aan te hou glo,

om aan te hou hoop,

en om lief te wees vir God

en vir ander mense.

Maar die belangrikste is

om lief te wees vir God

en vir ander mense.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help