Jesaja 11 - Bybel vir almal

'n Kind sal gebore word

1Min mense het oorgebly

van die nageslag van Isai.

Hulle is soos 'n boom se stam

wat oorgebly het in die grond

wanneer iemand die boom afgekap het.

Maar uit daardie boomstam

sal 'n takkie groei en dit sal vrugte dra.

'n Kind sal gebore word

en hy sal koning word.

2Die Gees van die Here sal by hom wees.

Daarom sal hy wysheid en verstand hê,

hy sal weet wat om te doen

en hy sal dit kan doen,

hy sal naby die Here wees en hy sal Hom dien.

3Hy sal bly wees

omdat hy die Here kan dien.

Hy sal 'n regter wees

wat dieselfde doen aan almal,

hy sal nie luister na skinderstories nie.

4Wanneer die arm mense in die poort kom,

dan sal die koning reg doen aan hulle.

Hy sal reg doen aan die mense

wat nie belangrik is nie.

Hy sal regeer oor almal in die land,

en wanneer mense verkeerd doen,

dan sal hy sê hulle moet sterf.

5Hy sal 'n koning wees

wat regverdig sal regeer

en hy sal eerlik wees.

6Die lam en die wolf sal saam woon.

Die luiperd sal by die bokkie lê.

Die leeu en die kalf en die bees sal saam wees,

en 'n seuntjie sal vir hulle sorg.

7Die koei en die beer sal saam gras vreet,

hulle kleintjies sal bymekaar lê,

en die leeu sal gras vreet soos 'n koei.

8Klein kindertjies sal by slange se gate speel

en hulle sal aan die slange vat.

9Die Here sê:

“Op my gewyde berg

sal niemand verkeerd doen nie,

niemand sal iets breek nie.”

Die see is vol water,

en so sal die land ook vol mense wees

wat naby My wil wees.

10Daardie dag sal die koning van die nageslag van Isai 'n teken wees vir die volke dat hulle moet kom. Hulle sal vir die koning vra wat hulle moet doen, en sy woonplek sal baie mooi wees.

Daar sal 'n pad wees uit Assirië

11Daardie dag sal die Here weer sy hand uitsteek om sy mense vry te maak, sy mense wat oorgebly het. Hulle sal kom uit die land Assirië, uit die land Egipte, uit die land Kus, uit die land Elam, uit die land Sinar, uit die land Hamat en uit die lande wat langs die see is.

12Die Here sal 'n vlag ophou tussen die volke en Hy sal die mense van Israel en Juda bymekaarmaak. Die vyande het hulle weggevat en hulle oral op die aarde laat woon.

13Die mense van Efraim sal nie meer kwaad wees nie en die vyande van Juda sal sterf. Die mense van Efraim en die mense van Juda sal ook nie meer kwaad wees vir mekaar nie.

14Hulle sal saam oorlog maak teen die Filistyne in die weste en hulle sal die mense in die ooste se goed vat. Hulle sal die Edomiete en die Moabiete oorwin, en hulle sal oor die Ammoniete regeer.

15Dan sal die Here die punt van die see by Egipte droog laat word en Hy sal sy hand oor die Eufraat-rivier swaai en 'n stormwind stuur. Dan sal daar net sewe klein riviertjies oorbly, 'n mens sal deur hulle kan loop.

16Daar sal 'n pad wees uit Assirië vir die Here se mense wat oorgebly het. Dit sal wees soos toe die Israeliete weggegaan het uit Egipte.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help