Nahum 1 - Bybel vir almal

1Die Here het vir Nahum gewys wat Hy met die stad Nineve wil doen. Nahum het van die stad Elkos gekom. Die Here het gesê Hy sal Nineve straf.

Wanneer die Here kom

2Die Here is 'n God

wat baie kwaad word

en wat sy vyande straf.

Hy straf die mense wat teen Hom is,

Hy bly kwaad vir sy vyande.

3Die Here is geduldig

en baie sterk,

maar as iemand skuldig is,

dan sal die Here hom straf.

Wanneer die Here kom,

dan is daar 'n sterk wind

en 'n storm.

Die wolke is soos stof

onder sy voete.

4Wanneer Hy met die see raas,

dan word die see droog.

Hy laat al die riviere droog word.

Die plante in Basan

en op Karmel-berg word droog.

Al die blomme op die Libanon-berg

verlep en gaan dood.

5Die berge skud voor die Here,

die heuwels smelt,

die wêreld en almal

wat op die wêreld woon,

skrik wanneer die Here kom.

6Wie kan voor God staan

wanneer Hy kwaad is?

Niemand nie.

Wanneer God kwaad is,

dan is dit soos 'n vuur wat brand.

Die rotse breek stukkend

voor Hom.

Ek sal julle nou vrymaak

7Die Here is goed.

Hy help mense wanneer dit sleg gaan met hulle

en Hy is bekommerd oor almal

wat vra dat Hy hulle moet beskerm.

8Maar die Here sal die mense van Nineve straf.

Dit sal lyk soos wanneer

'n sterk stroom water

hulle wegspoel.

Hy sal sy vyande jaag

tot in donker plekke.

9Die Here sal die planne stop

wat julle teen Hom maak.

Sy vyande sal nie weer kom nie.

10Hulle is soos dorings

wat inmekaar steek,

hulle is dronk van die wyn

wat hulle drink,

maar hulle sal brand soos kaf.

11Daar het iemand uit Nineve gekom

wat slegte planne

teen die Here gemaak het.

Hy wou hê dit moet sleg gaan

met die Israeliete.

12Die Here sê:

“Daar is nou baie soldate

in Nineve,

en hulle is sterk.

Maar hulle sal almal

in oorlog sterf.

My volk, Ek het julle laat swaarkry,

maar Ek sal julle nie weer

laat swaarkry nie.

13Ek sal julle nou vrymaak.

Nineve sal nie meer regeer

oor julle nie.”

Daar sal vrede wees

14Nineve, die Here het gesê

die vyande moet jou verwoes,

niemand sal jou naam

weer noem nie.

Die Here sê:

“Ek sal die beelde stukkend breek wat

in jou afgod se tempel is.

Ek grawe vir jou 'n graf,

want jy beteken niks.

15Kyk, daar oor die berge

kom iemand

wat 'n boodskap bring.

Hy bring goeie nuus,

hy sê daar sal vrede wees.

Hy sê: ‘Mense van Juda,

julle moet julle feeste vier.

Julle moet vir die Here gee

wat julle belowe het.

Die slegte mense

wat julle verdruk het,

sal nie weer in julle land kom nie.

Hulle is dood.’ ”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help