Job 24 - Bybel vir almal

Job sê mense doen slegte dinge aan arm mense

1Job het gesê:

“Hoekom besluit die Allerhoogste God nie

wanneer Hy wil oordeel nie?

Hoekom moet die mense wat Hom ken,

aanhou wag vir daardie tyd?

2Mense vat ander mense se grond,

hulle steel skape en bokke

en laat hulle wei saam met hulle eie diere.

3Hulle vat die weeskind se donkie,

hulle hou die weduwee se bees vir hulleself

omdat die weduwee geld skuld vir hulle.

4Hulle gee nie vir die arm mense

'n plek om te lewe nie,

die mense in die land wat niks het nie,

moet wegkruip.

5Die arm mense moet soos

wildedonkies lewe,

hulle moet in die woestyn kos gaan soek

vir hulleself en vir hulle kinders.

6Hulle moet gras bymekaarmaak om te eet,

hulle moet die druiwe steel wat oorgebly het

in die wingerde van die ryk mense,

die mense wat verkeerd doen.

7Die arm mense moet kaal slaap,

sonder klere,

hulle het nie komberse

wanneer dit koud is nie.

8Hulle word waternat

wanneer dit hard reën in die berge,

hulle probeer om agter die rotse

weg te kruip.

9Mense gryp die arm mense se kinders

uit hulle ma's se arms,

hulle maak die arm mense se kinders hulle slawe.

10Die arm mense loop kaal,

hulle het nie klere nie,

die arm mense bring die ryk mense

se koring uit die land,

maar hulle self bly honger.

11Hulle stamp olywe stukkend

tussen die mure,

hulle trap die druiwe

in die parskuipe,

maar hulle kry nie iets

om te drink nie.

12Arm mense wat sterf,

kla en huil in die stad,

hulle het baie seerplekke

en hulle skree en vra

dat God hulle moet help,

maar God luister nie.

13“Slegte mense hou nie van die lig nie,

hulle wil nie hê dat mense moet sien

wat hulle doen nie.

14Die moordenaar staan op

voordat dit lig word,

en hy vermoor mense

wat hulleself nie kan help nie,

hy vermoor arm mense

en hy steel wanneer dit nag is.

15Die persoon wat egbreuk wil pleeg,

wag totdat dit donker word,

hy dink niemand sal hom sien nie

en hy sit 'n sluier oor sy gesig.

16Diewe wat inbreek,

werk in die donker

en hulle kruip weg in die dag,

hulle wil nie die lig sien nie.

17Vir daardie mense is die donker

soos die oggend,

hulle weet hoe dit is om in die nag

bang te wees.”

Dit gaan sleg met sondaars

18“Hierdie slegte mense is soos dinge

wat lig is en vinnig op die water wegdryf.

God het hulle grond vervloek,

niemand gaan werk in hulle wingerde nie.

19Wanneer dit droog en warm is,

dan smelt en verdwyn die sneeu.

Dit is dieselfde met sondaars,

hulle verdwyn in die doderyk.

20Die sondaar se eie ma vergeet hom,

die wurms hou daarvan om hom te vreet,

niemand dink nog aan hom nie.

Die mens wat slegte dinge doen,

breek soos 'n stuk hout,

21want hy het die goed gesteel

van die vrou wat nie kinders kon kry nie,

hy het nooit goed gedoen aan 'n weduwee nie.

22Maar God is sterker as sterk mense.

Wanneer Hy besluit om iets te doen,

dan kan die mens wat slegte dinge doen,

nie aanhou lewe nie.

23God laat daardie mens veilig voel,

hy dink dat God hom help,

maar God sien alles wat hy doen.

24Mense wat verkeerde dinge doen,

is net 'n kort tydjie belangrik,

maar dan verdwyn hulle.

God laat hulle sterf

soos al die plante

wat droog word en verlep,

hulle sterf soos koring-are

wanneer mense dit afsny.

25Dit is waar, niemand kan sê

dat ek nie die waarheid praat nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help