Jesaja 55 - Bybel vir almal

Ek wil aanhou lief wees vir julle

1Die Here sê:

“Julle almal wat dors is,

julle moet kom na die water.

Julle wat nie geld het nie,

julle moet kom koop en eet,

julle moet wyn en melk kom koop,

maar dit kos niks.

2Hoekom betaal julle vir iets

wat nie regtig kos is nie?

Hoekom werk julle vir iets

wat julle nie volmaak nie?

Julle moet goed na my luister

sodat julle iets kan eet wat goed is,

sodat julle lekker kan eet

van die beste kos.

3Luister en kom na My toe,

luister sodat julle kan lewe.

Ja, Ek wil 'n verbond maak met julle,

'n verbond wat vir altyd sal wees.

Ek wil aanhou lief wees vir julle

soos Ek lief was vir Dawid.

4Want kyk, Ek het vir Dawid gesê

hy moet vir die volke wys wie Ek is.

Ek het hom 'n koning gemaak

wat oor die volke regeer het.

5En kyk, julle sal 'n volk roep

wat julle nie ken nie,

'n volk wat julle nie ken nie,

sal na julle toe hardloop.

Want Ek is julle God die Here,

die Heilige God van Israel,

en Ek gee weer eer vir julle.”

6Julle moet vir die Here vra

wat Hy wil hê,

Hy wil dit vir julle sê.

Julle moet tot Hom bid,

Hy wil hoor wat julle sê.

7Die mense wat verkeerd doen,

die mense wat slegte planne het,

moet ophou.

Hulle moet hulle planne los,

en hulle moet terugkom

na die Here, na ons God,

want die Here is genadig,

Hy vergewe altyd weer.

8“Ja, Ek dink nie soos julle dink nie,

en Ek doen nie soos julle doen nie.

9Ja, wat Ek dink en doen,

is ver bo wat julle dink en doen,

soos die hemel ver bo die aarde is.

10Ja, die reën en die sneeu

kom uit die hemel

en dit gaan nie terug na die hemel nie.

Dit maak die aarde nat,

en daar groei plante wat saad gee

sodat die man wat wil saai, saad het

en sodat die man wat wil eet, brood het.

11So sal my woorde wees

wat uit my mond kom,

dit sal doen wat Ek wil hê.

My woorde sal doen wat Ek gesê het

hulle moet doen,

my woorde sal nie leeg

na My toe terugkom nie.

12Ja, julle sal bly wees

wanneer julle uit Babel kom,

julle sal vrede hê wanneer die Here

julle terugbring.

Die berge en die heuwels

sal bly wees en juig,

al die bome in die veld sal hande klap

wanneer hulle sien julle kom.

13Daar sal sipresbome en mirtebome groei

waar voorheen doringbosse

en brandnetels was,

en almal sal altyd weet

dat die Here dit gedoen het.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help