Hosea 10 - Bybel vir almal

Die vyande sal die stad Samaria verwoes

1Die mense van Israel

het baie geword.

Hulle was soos wingerdstokke

wat baie druiwe dra.

Maar toe hulle baie word,

het hulle baie altare gebou.

Toe dit goed gaan met die land,

het hulle mooi klip-pale

gemaak.

2Hulle is vals,

daarom is dit reg

dat die Here hulle straf.

Hy sal hulle altare stukkend breek

en hulle klip-pale verwoes.

3Hulle sê nou:

“Ons wil nie

luister na die koning nie,

want ons is nie bang

vir die Here nie,

en 'n koning kan ons nie help nie.”

4Hulle belowe baie dinge,

en hulle sê die Here

is die getuie,

maar hulle lieg

wanneer hulle dit sê.

Hulle laat mense sterf

wat reg gedoen het.

Dit is soos wanneer die mense

die giftige plante eet

wat groei by die waterslote

langs die koringlande.

5Die mense wat

in die land Samaria woon,

is bekommerd

oor die beeld

van die bul-kalf

in die sondestad Bet-El.

Die volk en die priesters huil

en treur oor die beeld,

want die vyande het alles weggevat

wat by die beeld was.

6Hulle sal die beeld ook wegvat

en hulle sal dit vir die koning van Assirië

present gee.

Die vyande sal die mense

van Efraim spot,

dan sal hulle skaam wees

oor alles wat hulle wou doen.

7Die vyande sal

die stad Samaria verwoes.

Die stad en sy koning sal verdwyn.

Dit sal wees soos 'n stokkie

wat wegdryf op die water.

8Die vyande sal die offer-plekke

in Bet-El verwoes,

daar waar die mense van Israel

sonde gedoen het.

Dorings en bossies

sal op hulle altare groei.

Hulle sal vir die berge

en die heuwels sê:

“Val op ons, maak ons toe!”

9Die Here het gesê:

“Die mense van Israel

het sonde gedoen,

hulle het gedoen soos

die mense van Gibea,

en hulle het aangehou

om sonde te doen.

Daar was oorlog

teen die slegte mense van Gibea,

10en wanneer Ek so besluit,

dan sal Ek die mense van Israel

ook straf.

Ek sal ander volke

bymekaar laat kom teen hulle

om hulle te straf,

want hulle het weer en weer

sonde gedoen.

11“Die mense van Efraim

was soos 'n mak jong koei

wat daarvan hou om koring

op die dorsvloer te trap.

Toe Ek daar verbykom

en Ek sien sy het 'n sterk nek,

wou Ek haar inspan

voor die ploeg.

Juda en die nageslag van Jakob

moes saam die ploeg trek

en die grond gelyk maak.

12“Ek het vir hulle gesê:

‘Julle moet doen wat Ek wil hê,

dit is die saad

wat julle moet saai.

Dan sal Ek lief wees vir julle,

dit sal die koring wees

wat julle afsny.

Julle moet nou begin

om op my koringland te werk.

Dit is nou die tyd om te vra

wat die Here wil hê.

Dan sal Hy kom

en Hy sal dit laat reën,

sodat dit goed sal gaan met julle.’

13“Maar julle het verkeerd gedoen,

dit is die saad

wat julle gesaai het.

Daarom gaan dit sleg met julle,

dit is die oes wat julle afgesny het.

Hoekom?

“Omdat julle leuens vertel het.

Daarom sal Ek julle straf.

Julle het gedink dit sal goed gaan

as julle self planne maak

en baie soldate het.

14Daar sal oorlog kom teen julle.

Die vyande sal al julle stede

verwoes wat hoë mure het.

Dit sal sleg gaan met julle

soos met die mense

van die stad Bet-Arbel

toe koning Salman die ma's

en hulle kinders

saam doodgeslaan het.

15So sal dit ook gaan

met die mense van Bet-El,

want hulle het baie lelike

dinge gedoen.

Wanneer die dag begin,

dan sal Israel nie meer

'n koning hê nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help