Jesaja 14 - Bybel vir almal

1Ja, die Here sal weer goed wees vir die Israeliete. Hy sal hulle weer kies om sy volk te wees en Hy sal hulle in hulle eie land laat woon. Mense uit ander volke sal by die Israeliete kom woon. Hulle sal saam met die nageslag van Jakob lewe.

2Ander volke sal die Israeliete terugbring na hulle land, en dan sal die mense van die ander volke slawe en slavinne word van die Israeliete in die land van die Here. Die ander volke het die Israeliete weggevat uit hulle land, maar nou sal die Israeliete die mense van daardie volke wegvat uit hulle lande. Die Israeliete sal nou regeer oor die mense wat slegte dinge gedoen het aan die Israeliete.

Die mense spot met die koning van Babel

3Israeliete, julle sal nie meer swaarkry en soos slawe vir ander mense moet werk nie. Die Here sal julle swaarkry laat ophou. Wanneer dit gebeur,

4dan moet julle die koning van Babel spot. Julle moet hierdie lied sing en sê:

“Die man wat ons verdruk het,

sal nou sterf,

ons sal nie meer swaarkry nie.

5Die Here het die stok gebreek

van die slegte mense wat regeer het oor ons.

6Die koning van Babel het kwaad geword

en hy het volke geslaan,

hy het dit weer en weer gedoen,

hy het kwaad geword en op volke getrap,

hy was nie jammer vir hulle nie.

7Maar nou rus die hele aarde,

daar is vrede,

al die mense begin sing.

8Koning van Babel,

die sipresbome en die sederbome

op die Libanon-berg is ook bly

omdat jy dood is,

want nou kom niemand

om hulle af te kap nie.

9Die doderyk onder die aarde

bewe wanneer jy kom,

die geeste van die leiers van die aarde

word wakker.

Die leiers wat gesterf het,

die konings wat dood is,

klim af van hulle trone.

10Hulle praat almal, hulle sê:

‘Jy het nou ook swak geword

soos ons, jy is nou soos ons.

11Jy het altyd mooi dinge gekry

en jy het geluister na musiek van 'n harp,

maar nou is jy dood,

en die wurms vreet jou.

12Jy was soos die môrester,

maar jy het uit die lug geval,

jy het ander volke oorwin,

maar jy het op die grond geval.’

13Jy het gedink:

Ek sal opklim tot in die hemel

en ek sal my troon neersit bo die hoogste sterre,

ek sal sit in die vergadering van die gode,

daar ver in die noorde.

14Ek sal opklim tot bo die wolke

en ek sal word soos die Hoogste God self.

15Maar nou gaan jy af na die doderyk,

na die diepste plek in die doderyk.

16Almal wat jou daar sien,

sal nader kom en hulle sal kyk na jou.

Hulle sal sê: ‘Is dit die man

vir wie die mense in al die lande bang was?

17Is dit die man wat die aarde

soos 'n woestyn laat word het?

Is dit die man wat die stede

afgebreek het en die mense weggevat het

en hulle nie laat teruggaan het

na hulle huise nie?’

18Al die konings van die volke is netjies begrawe,

elkeen in sy graf,

19maar die mense het jou nie begrawe nie.

Hulle het jou weggegooi

soos 'n vrot stuk hout.

Jy lê tussen die dooie mense

wat gesterf het in oorlog.

Jy is soos 'n lyk waarop die mense trap.

Ander dooie mense lê in grafte wat in rotse is,

20maar jy is nie saam met hulle nie.

Niemand het jou begrawe nie,

want jy het jou land verwoes

en jou mense doodgemaak.

Niemand sal so 'n slegte man se naam onthou nie.

21Julle moet 'n plek gereedmaak

waar julle sy seuns kan doodmaak

oor alles wat hulle pa gedoen het.

Die aarde sal nie aan hulle behoort nie,

en hulle sal nie stede kan bou

oral in die wêreld nie.”

22Die Here wat oor alles regeer, sê:

“Ek sal oorlog maak teen die stad Babel,

daar sal niemand oorbly nie,

daar sal nie 'n nageslag wees nie.

23Ek sal Babel 'n plek maak

waar net uile woon,

dit sal 'n riet-moeras wees.

Ek vee Babel weg

met 'n besem wat alles verwoes.”

Die Here wat oor alles regeer, het dit gesê.

Ek sal die Assiriërs se juk wegvat

24Die Here wat oor alles regeer, het gesê:

“Ek belowe,

en alles wat Ek wil doen, sal gebeur.

Dit sal wees soos Ek besluit het:

25Ek sal die Assiriërs breek in my land,

Ek sal hulle trap totdat hulle plat is op my berge.

Ek sal die Assiriërs se juk wegvat

van die Israeliete se skouers af,

die Israeliete sal nie meer die juk dra nie.”

26Dit is wat die Here besluit het

oor die hele aarde,

dit is wat Hy sal doen met al die volke.

27Ja, die Here wat oor alles regeer, het besluit,

en Hy sal doen wat Hy wil doen,

en niemand kan Hom stop nie.

Die Filistyne moet bang wees en bewe

28Die Here is kwaad vir die Filistyne. Dit was in die jaar toe koning Agas gesterf het.

29Die Here het gesê:

“Filistyne, julle moenie bly wees nie.

Julle is bly,

want die stok wat vir julle geslaan het,

is nou stukkend,

maar dit sal baie slegter gaan met julle.

Dit sal wees soos wanneer jy een slang doodmaak

en daar kom nog 'n slang,

of soos wanneer jy die slang se eier stukkend trap

en daar kom 'n draak uit wat vlieg.

30Die Israeliete is arm,

maar hulle kinders sal genoeg kry om te eet,

hulle sal veilig wees.

Maar, Filistyne, Ek sal julle kinders doodmaak,

hulle sal nie kos hê om te eet nie en hulle sal sterf.

31Die mense in die poorte van die stede

moet huil en skree.

Al die Filistyne moet bang wees en bewe,

want uit die noorde kom die vyande

soos 'n rookwolk,

hulle soldate loop almal saam in rye.”

32Wat sal ons sê vir die mense

wat boodskappe bring van daardie volk?

Ons sal sê:

“Dit is die Here wat Jerusalem gebou het.

Sy mense, wat hulleself nie kan help nie,

is veilig daar.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help